Proteas mik vir reusetelling
2013-01-12 07:53
Port Elizabeth – AB de Villiers hoop die Proteas kan 'n reusetelling opbou op die tweede dag van die tweede toets teen Nieu-Seeland by St George’s Park.
Suid-Afrika was teen die einde van spel Vrydag stewig in beheer, met 325/4, danksy Hashim Amla se 19de toets-honderdtal.
“Ons het nie daaraan gedink nie,” het De Villiers oor 'n moontlike teiken vir die eerste kolfbeurt gesê. “Ons wil so lank as moontlik kolf en ons glo as ons hulle in die eerste kolfbeurt uit die wedstryd uit kan speel, sal dit baie druk op hulle plaas," het hy gesê.
“Ons was nie foutloos nie en Nieu-Seeland het aanvanklik baie goed geboul om ons die eerste keer in die reeks werklik onder druk te plaas.
“Halfpad deur die middagskof het ons egter ons beste krieket begin speel en die laaste uur of twee het ons heeltemal oorheers.”
De Villiers het gesê die blad in Port Elizabeth is nie maklik om op te kolf nie, al het Amla dit so laat lyk.
“Die bal het vroeg nogal heelwat geswaai en selfs al het jy al ’n ruk lank gekolf, het dit steeds gevoel of jy enige oomblik jou paaltjie kon verloor.
“Hashim het net weer gewys waartoe hy in staat is. Dis ’n plesier om saam met hom te kolf, want hy het ’n kalmerende invloed op die res van die span en danksy hom is ons in ’n baie stewige posisie.”
– Volg Nuus24Sport op Twitter.