Proteas kry eie medisyne
2010-12-27 23:00
Eduan Roos
Durban - En toe word die vonkelwyn asyn.
Nadat die Suid-Afrikaanse krieketspan die eerste ses dae van die toetsreeks teen Indië oorheers en minder as 24 uur gelede nog onstuitbaar gelyk het, moes die Proteas Maandag van hul eie medisyne proe.
En dit was kasterolie-sleg. Altesame 18 paaltjies het gekantel. Die tuisspan is vir ’n skamele 131 uitgeboender – sy laagste toetstelling in byna drie jaar – nadat die besoekers vroeër ’n beskeie 205 aangeteken het.
Teen uitskeityd was die besoekers op 92/4 in hul tweede beurt wéér in die knyp, tog is die voorsprong van 166 lopies reeds ’n stewige een, met VVS Laxman en Cheteshwar Pujara steeds voor die paaltjies.
Dale Steyn (6/50) het Maandagoggend sy plundertog voortgesit en saam met Morné Morkel net ’n raps meer as 40 minute benodig om die laaste vier Indiese paaltjies plat te trek.
Die Proteas-beurt het egter rampspoedig begin toe die kaptein, Graeme Smith (9, 11 b, 2x4), wéér deur Zaheer Khan (3/36) uitgehaal is.Dié linkerhandse naatbouler het kort daarna ook deur Alviro Petersen (24, 39 b, 3x4) se verdediging gedring voordat Jacques Kallis (10, 17 b, 2x4) op bisarre wyse gestrand gelaat is toe die snelbouler Ishant Sharma die bal geraak het ná ’n dryfhou van Hashim Amla en dit die paaltjies getref het.
Indië se draaier Harbhajan Singh was gister onverbeterlik en het daarna ook die res van die Suid-Afrikaanse kolflys – met die uitsondering van Ashwell Prince, Mark Boucher en Morkel – kafgedraf. Lonwabo Tsotsobe (2/16) het die Proteas-terugvegpoging ingelui deur ’n omgesukkelde Virender Sehwag (32, 31 b, 6x4) agter die paaltjies te laat uitvang, waarna Murali Vijay (9, 27 b, 1x4) deur Morkel (1/17) uitoorlê is.
Laxman (23*, 59 b, 4x4) en Pujara (10*, 51 b, 1x4) se waaksame vennootskap van 36 lopies om die vyfde paaltjie het die toerspan na veiliger waters gestuur – ondanks ’n paar benoude oomblikke.
- Sport24