Proteas kom tweede in Paarl
2013-01-19 18:27
Paarl – Die Proteas het in die eerste van drie eendagwedstryde teen Nieu-Seeland in die Paarl die onderspit gedelf.
Die besoekers het met 'n paaltjie gewen op Bolandpark, nadat hulle in 'n stadium op 140/8 gestaan het.
"Ons het vandag teen 80% gespeel, wat baie teleurstellend is," het AB de Villiers kort ná die wedstryd gesê.
Die Proteas het eerste gekolf, maar moes veg vir elke lopie, en het ná 46,2 boulbeurte op 208 te staan gekom.
Mitchell McClenaghan het vier paaltjies geneem en kon 'n vyfde inpalm, maar is in die steek gelaat deur slordige veldwerk.
Kane Williamson het hom goed ondersteun en vier paaltjies van sy eie geëis.
Suid-Afrika se telling kon selfs laer gewees het, ná veldwerkers 'n bal van Graeme Smith laat val het terwyl hy net twee lopies op die telbord gehad het. 'n Bal direk van Quinton de Kock is ook laat val.
Rory Kleinveldt, wat op nommer nege gekolf het, het daarin geslaag om 26 lopies aan te teken van 20 balle, met drie uitstekende grenshoue.
Nieu-Seeland het op 'n gereelde grondslag paaltjies geneem, en Suid-Afrika het nooit werklik oorheers nie.
Faf Du Plessis het egter sterk gestaan met 'n telling van 57 lopies in 72 balle.
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA