Proteas klim ranglyste fluks
2012-01-09 08:00
Kaapstad – Die Proteas se uitstekende vertoning verlede week in die derde toets teen Sri Lanka op Nuweland het hul spelers gehelp om teen die Internasionale Krieketraad se onderskeie ranglyste op te skiet.
Vernon Philander het die grootste sprong gemaak en beklee ná ’n skamele vier toetse reeds die 21ste plek op die ranglys vir boulers. Hy het 7 plekke opgeskuif. Dié Kaapse naatbouler het 16 paaltjies in twee toetse teen Sri Lanka platgetrek.
Jacques Kallis het twee plekke op die ranglys vir toetskolwers geklim ná sy puik beurt van 224 lopies in sy 150ste toets. Hy is nou weer tweede op die lys ná Sri Lanka se Kumar Sangakkara.
Kallis is ook weer tweede op die lys van veelsydige spelers ná sy 3/35 in die tweede beurt. Hy het tot nr. 5 geval op dié lys nadat hy slegs een toetspaaljie in 2011 kon plattrek.
AB de Villiers is ook vergoed vir sy Speler van die Reeks-vertonings teen Sri Lanka. Hy het 353 lopies in vier beurte in die reeks teen ’n gemiddelde 117.66 geslaan.
De Villiers het drie plekke op die toetsranglys gespring en is nou die wêreld se nommer vyf.
Dale Steyn is steeds eerste op die ranglys vir toetsboulers nadat hy 14 paaltjies teen ’n gemiddelde van 21.57 teen Sri Lanka geneem het.
Hashim Amla is die een Suid-Afrikaners wat kwaai teruggesak het. Amla het sewe plekke geval tot 14de op die ranglys.
Die Proteas is tans derde op die ranglys vir toetsspanne met 117 punte. Engeland (126) en Indië (118) is steeds eerste en tweede. Suid-Afrika sál egter die tweede plek inneem wanneer die reeks tussen Australië en Indië klaarmaak – ongeag wat in die laaste twee toetse gebeur.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24