'Proteas hoef nie Sri Lanka se boulers te vrees'
2011-12-13 07:35
Kimberley – Die Proteas moenie te veel slapelose nagte hê nie oor die Sri Lankaanse boulaanval wat van Donderdag af in die eerste kriekettoets in Centurion op hulle wag.
Só sê die Knights se veelsydige Dean Elgar nadat hy die naweek in Benoni as kaptein van die Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan eerstehands met die besoekers se boulers te doen gekry het.
Elgar het 78 lopies op Willowmoorepark gemoker en was een van vyf kolwers van sy span wat 50 of meer lopies teen die besoekers se middelmatige boulaanval aangeteken het.
Reeza Hendricks (66), Stiaan van Zyl (53), Rilee Rossouw (52) en Farhaan Behardien (52) het ook onder Sri Lanka se boulers ingeklim in ’n kragmeting wat eindelik onbeslis geëindig het.
“Hul snelaanval kan nie by Suid-Afrika s’n kers vashou nie. Dit is net Dilhara Fernando (4/76) wat ’n gevaarman behoort te wees, maar die ander boulers steek maar sleg af teen die Proteas wat vaart betref,” het Elgar gesê.
Hoewel die kolfblad op SuperSportpark in Centurion anders behoort te wees as die een in Benoni, glo Elgar dat die Proteas eerder op hul eie spel moet fokus as om oor die Sri Lankane se verwagte boulaanval te tob.
“ ’n Mens moet jou instink volg en dit (die boulaanval) trotseer wat voor jou is. Ek sou my eerder toespits op my eie spel as wat ek my oor hulle s’n sou bekommer. Sri Lanka het egter goeie veelsydigheid in sy boulaanval en daar is ’n paar ervare ouens teen wie dit moeilik was om houe te speel.”
Oor die SuperSport-kolfblad in Centurion het Elgar, ’n hotkloukolwer van die Knights, gesê: “As jy jou goed ingrawe dáár kan jy enige tyd ’n goeie telling behaal. Maar dieselfde geld die span wat veldwerk doen. As jou boulers gedissiplineerd boul, sal hulle beslis beloon word.”
Ná sy goeie vertoning teen die toerspan sien Elgar daarna uit om hom weer by die Knights aan te sluit vir vandeesweek se meerdaagse SuperSport-tuiswedstryd teen die Titans.
“Dit was ’n goeie ervaring om teen Sri Lanka te speel, maar ek sien nou uit daarna om weer in die SuperSport-reeks te speel.
“Die wedstryd teen die Titans is ons eerste kragmeting tuis.
“Hulle sal weer ’n groot uitdaging aan ons rig.”
Die Knights moet vanjaar nog tuis ook teen die Dolphins en die Cape Cobras te staan kom.
– Sport24.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Die Burger