Proteas druk dalk op De Lange
2011-12-15 08:32
Centurion – Daar sal Donderdagoggend asem opgehou word op Tzaneen oor die vooruitsig dat een van dié Limpopo-dorp se seuns sy debuut vir die Suid-Afrikaanse krieketspan kan maak.
Die 21-jarige snelbouler Marchant de Lange kan vandag die eerste oudleerder van die Hoërskool Ben Vorster word wat toetskrieket vir Suid-Afrika speel.
Suid-Afrika se afrigter, Gary Kirsten, en sy keurpaneel sal moet besluit tussen De Lange en die draaier Imran Tahir vir die eerste toets teen Sri Lanka, wat vanoggend hier op SuperSportpark begin.
Graeme Smith, die kaptein, het Woensdag gesê daar sou gisteraand vergader word oor die span en dat dit aangekondig sal word kort voor die toets vanoggend begin.
’n Grasgroen kolfblad kan die Suid-Afrikaners dalk oortuig om uitsluitlik ’n snelaanval te speel, wat aan De Lange sy debuut sal bied nadat hy net 14 eersterangse wedstryde gespeel het en vroeër vanjaar nog amateurkrieket vir Oostelikes gespeel het.
Sy fenomenale opgang hierdie seisoen is veral gekenmerk deur ’n uitstekende boulvertoning vir Suid-Afrika A teen Australië op Potchefstroom skaars meer as ’n maand gelede.
Die kolfblad was Woensdag ’n groot besprekingspunt hier by die stadion. Smith se oë het gerek toe hy die hoeveelheid gras op die blad gesien het.
“Ek dink die veldopsigter moet ’n bietjie paniekerig raak en hoop vir sonskyn sodat die blad kan uitdroog. Ek dink veral die eerste dag kan baie interessant wees,” het Smith gesê. “Die blad kon ook eers Maandag begin voorberei word en dit sal maar ’n geval wees van wag en kyk hoe dit gaan wees,” het hy bygevoeg.
Nadat daar groot ongelukkigheid was omdat die reeks teen Australië uit slegs twee toetse bestaan het, het hy gesê dit is goed om nou betrokke te wees in ’n reeks oor drie toetse teen die Sri Lankane.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg