Protea-spelers 'moet rus'
2012-01-25 19:56
Johannesburg – Krieket Suid-Afrika (KSA) se Mediese Komitee het die meeste Protea-spelers wat in die eendagreeks teen Sri Lanka betrokke was, aangeraai om die ronde Supersportreeks-wedstryde wat Donderdag begin, uit te sit.
Die Proteas se spanbestuurder, Mohammed Moosajee, het gesê: “Die KSA Mediese Komitee het elke speler wat aan die eendagreeks deelgeneem het deeglik ondersoek en spesifieke aanbevelings vir elke speler deurgegee.”
“Daar is ‘n paar spelers met klein beserings. Daar sal oor die volgende twee weke na hulle omgesien word, terwyl ander spelers bestuur word ná ‘n strawwe skedule. Hulle het ook ‘n besige seisoen wat voorlê, waarin die werklading van sommige sleutelspelers versigtig bestuur sal moet word.”
Terwyl rus en herstel aanbeveel is, het die spelers steeds ‘n taai oefen- en kondisioneringsprogram om te volg voor die oorsese toer na Nieu-Seeland.
“Ek het individuele oefenprogramme vir elke speler saamgestel ter voorbereiding op Nieu-Seeland,” het Rob Walter, die Proteas se kondisioneringsafrigter, gesê. “Die programme sal fokus op kardio- en kragoefeninge en sal ook krieket-spesifieke aktiwiteite insluit.”
Die Cobras word steeds versterk deur sommige nasionale spelers. Justin Ontong, Mark Boucher, Robin Peterson en Richard Levi is almal by die span ingesluit wat die Titans in die Paarl takel.
Al vier is Woensdag by die toergroep na Nieu-Seeland ingesluit.
Vandeesweek se ronde Supersportreeks-wedstryde is:
Dolphins v Warriors, Durban - 09:30
Lions v Knights, Johannesburg - 10:00
Cape Cobras v Titans, Paarl - 10:00
- Volg Nuus24Sport op Twitter