Procter kap Proteas
2012-01-18 07:01
Bloemfontein – Die Proteas-kolwer Jacques Kallis se “ruskans” vir die res van die eendagreeks teen Sri Lanka het uiteenlopende reaksies tot gevolg gehad.
Mike Procter, ’n voormalige sameroeper van die nasionale span, het te velde getrek teen die bestuurspan se besluit om Kallis ná die tweede van die vyf wedstryde teen die eilandmanne te onttrek.
Veral omdat nog ’n toporde-kolwer, Hashim Amla, sy vrou met die geboorte van hul eersteling gaan bystaan.
Hy is ook aan die res van die reeks onttrek waarna Alviro Petersen en Colin Ingram weer betrek is.
Procter het in Business Day gesê Suid-Afrika het nog nie so baie gespeel nie en hy kan nie verstaan waarom Kallis moet rus nie.
“Hulle moenie sê hy word ’n ruskans gegun nie, hulle moet ’n ander woord vind.”
Nog ’n voormalige keurder, Craig Matthews, meen egter met die opkomende toere vanjaar na Nieu-Seeland en Engeland en later Australië, is dit ’n goeie ding dat die 36-jarige Kallis vir ’n paar dae gaan rus.
“Nog ’n goeie ding daarvan is dat die huidige span sal leer om sonder Kallis te wen,” het Matthews gister hier by die derde kitswedstryd teen Sri Lanka gesê.
Maar kon hulle nie gewag het dat die reeks eers in die sakkie is nie?
“Nee, die plaasvervangers wat nou speelkans kry, moet ook ’n bietjie druk ervaar,” het Matthews gesê.
“Met die reeks reeds gewonne sal dit ’n dooie affêre wees – jy wil hulle ook onder ’n bietjie druk plaas om te sien hoe hulle vaar.
“Jy wil sien hoe hulle daarteen opstaan. Kom ons wees eerlik, selfs sonder Kallis behoort Suid-Afrika, nadat hy die eerste twee wedstryde oorheers het, steeds die reeks te wen.”
Die keurderbaas, Andrew Hudson, het met die aankondiging van die gewysigde groep gesê dis jammer om spelers soos Kallis en Amla te verloor, maar dis ook ’n geleentheid om ander moontlikhede te beproef.
“Daar is nog plekke beskikbaar in ons eendaggroep en ek moet sê ek is opgewonde oor die talent wat deurkom.”
Procter het gesê met die span wat tans so goed op dreef is, was dit die ideale geleentheid om Graeme Smith te groet en ’n begaafde speler te speen.
Hy het uitgevaar teen die keurders se besluit om die toetskaptein vir die res van die kitsreeks te behou.
Smith was nog nie sy ou self met die kolf in die reeks nie.
Procter het gesê Smith is ook stadig tussen die paaltjies en hy is ook nie ’n goeie veldwerker nie.
Die feit dat Smith en die Kaapse breier van die nasionale span, Gary Kirsten, baie goeie vriende is, is straks die rede waarom Smith volgens Procter die valbyl vrygespring het.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg