Prince en Marchant se koppe kan rol
2011-12-30 08:45
Durban – Minstens twee koppe gaan rol ná die Proteas se vieslike loesing in die tweede kriekettoets teen Sri Lanka.
Graeme Smith, die Suid-Afrikaanse toetskaptein, het gister erken die tuisspan is met die rug teen die muur en dat die snoeiskêr ingelê kan word.
Die Proteas is in hul tweede beurt in Durban vir 241 uitgeboul. Hulle het ’n yslike wenteiken van 450 lopies gejaag en is eindelik met 208 lopies afgeransel.
En was dit nie vir ’n vegtersvennootskap van 99 lopies om die sewende paaltjie – tussen AB de Villiers (69) en Dale Steyn (43) – nie, kon die slagting veel morsiger gewees het.
Dié reeks is nou gelykop (1-1) en die beslissende kragmeting begin Dinsdag op Nuweland in Kaapstad.
“Wanneer jy verloor is dit natuurlik dat die debat rondom veranderinge en weglatings weer begin, maar die finale besluit berus by Gary (Kirsten, die Suid-Afrikaanse afrigter) en die res van die keurders,” het Smith gesê.
“Hulle moet vasstel wat die pad vorentoe is – nie net vir die volgende toets nie, maar ook vir die toere na Nieu-Seeland en Engeland, wat albei binne die volgende ses maande plaasvind.
“Dis baie belangrike reekse en hopelik neem hulle die regte besluite, in die beste belang van die span.”
Die plekke van veral Jacques Rudolph, Ashwell Prince, Mark Boucher en Morné Morkel is in die gedrang ná ’n rits teleurstellende vertonings – tog blyk dit of nét Prince en die nuweling Marchant de Lange op Nuweland die trekpas sal kry.
De Lange het sy buiging hier gemaak in die plek van die beseerde Vernon Philander en het ’n rekord sewe paaltjies platgetrek met sy eerste poging.
Die terugkeer van Philander, wat ’n verstommende 24 slagoffers geëis het in net sy eerste drie toetse, behoort egter aan hom die jawoord te besorg, terwyl Alviro Petersen ten koste van die sukkelende Prince ingespan sal word.
“Die keurders het die laaste tyd probeer om bestendig te wees met hul spankeuse en ek glo nie dit sal verander nie,” het Smith gesê.
“Vernon se besering was ’n gevoelige slag, maar Marchant het uitstekend gevaar. Ons het egter daardie bietjie ekstra beheer gekort met ons boulwerk, wat Vernon bied.”
Tog kan die boulers nie die skuld kry vir die nederlaag nie, het Smith gesê.
“Hulle het goed gedoen om die Sri Lankane so goedkoop uit te boul en ons kolwers het ons twee keer in die steek gelaat.”
Smith kon nie verduidelik waarom dié spul so liederlik gefaal het nie: “Ek wens ek het antwoorde gehad, maar die realiteit is dat Sri Lanka net eenvoudig beter was as ons.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24