Ponting en Clarke laat Indiërs wéér les opsê
2012-01-25 08:27
Johannesburg. – Indië se treurmare op die krieketveld teen Australië het Dinsdag op die eerste dag van die vierde en laaste toets in Adelaide voortgeduur.
Danksy ’n yslike vennootskap van 251 lopies tussen die Aussie-kaptein, Michael Clarke, en sy voorganger, Ricky Ponting, is die tuisspan stewig op koers om in die reeks met 4-0 skoonskip te maak.
Clarke-hulle is reeds met 3-0 voor ná oorwinnings met 122 lopies, ’n beurt en 68 lopies en ’n beurt en 37 lopies in onderskeidelik Melbourne, Sydney en Perth.
Die Aussies het teen uitskeityd 335/3 in hul eerste beurt opgestapel, met Clarke (140* lopies, 188 balle, 19x4, 1x6) en Ponting (137*, 254 b, 13x4) – soos in die tweede toets op die SCG – die groot kolfhelde.
Tog was die besoekers, wat moet klaarkom sonder die dienste van hul geskorste kaptein en paaltjiewagter, Mahendra Singh Dhoni, vir die grootste deel van die oggendskof met die hef in die hand.
Die vroeë verlies van David Warner (8, 23 b) en Shaun Marsh (3, 12 b) het die tuisspan op 31/2 laat wankel nadat Zaheer Khan (1/52) en die draaier Ravichandran Ashwin reeds voor die einde van die 10de boulbeurt toegeslaan het.
Toe Ed Cowan (30, 63 b, 3x4) se hardnekkige beurt boonop kort voor die middagete ook deur Ashwin (2/81) beëindig is, moes Ponting en Clarke die kastaiings uit die vuur probeer krap.
En hulle hét – met die enkele uitsondering van ’n halwe kans wat Clarke, met sy telling op net 36, gebied het van die boulwerk van Ishant Sharma (0/52).
’n Stewige buiterand het skadeloos deur die glipgordel geseil, oomblikke nadat die Indiërs se waarnemende kaptein, Virender Sehwag, dié posisie op onverklaarbare wyse onbeman gelaat het.
Sharma moes wag tot kort voor die uitskeityd vir sy volgende kans, toe dié lenige snelbouler wéér Clarke se buiterand gevind het, maar VVS Laxman nie die vangkans kon benut nie.
Aan die ander kant van die kolfblad het Ponting sy tweede honderdtal van die reeks behaal.
Hy het in die proses ook net die derde kolwer tot nog toe geword wat 13 000 toetslopies verbysteek.
Die ander is Sachin Tendulkar (15 432) en Rahul Dravid (13 262), albei van Indië.
Ashwin het aan Sapa-AFP gesê alles is nog lank nie verlore nie.
“Ons is met 0-3 agter en daarom het ons nie juis iets om te verloor nie.”
Hy het ook volgehou dat Clarke en Ponting nie ’n sielkundige houvas op die Indiese boulers het nie.
“Hulle het in die reeks heelwat lopies aangeteken, maar dis nie omdat ons hulle vrees nie.
“Ons het nie so goed geboul na hulle as wat ons moes nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24