'Plofstowwe' vertraag Twintig20
2009-10-17 14:27
Nieu-Delhi - Die wedstryd tussen die Cape Cobras en die Victorian Bushrangers is vir ‘n uur later uitgestel weens ‘n verdagte wat glo plofstowwe by hom gedra het.
Pervez Rasool (21), ‘n krieketspeler van Kashmir is kort voor sy eie plaaslike wedstryd in hegtenis geneem nadat die alarm van metaalverklikkers by die M. Chinnaswamy-stadion in die hoofstad Bangalore afgegaan het.
Rasool en sy span, die Indian Kashmir het by die woonstelblok wat aan die stadion behoort, gebly vir die wedstryd.
Hy is na die polisiestasie geneem nadat die polisie sy kamer en sy sakke deursoek het. Daar was egter geen plofbare stowwe in die sak wat die metaalverklikkers geaktifeer het nie, het Shankar Bidari, die polisiekommissaris gesê.
“Daar is geen plofstowwe in sy handbagasie gekry nie, maar dit kon in dié sak vervoer geword het of dit is verplaas. Daar kon moontlik oorblyfsels in die sak agter gebly het. Die sak is vir ‘n chemiese ondersoek gestuur,” het Bidari gesê.
Saleem Khan, die sekretaris van die Jammu-Kashmir Krieketvereniging het vir Rasool verdedig en gesê daar is niks in sy sak gevind nie.
Die Twintig20 Krieket Kampioenliga tussen Suid-Afrika se Cape Cobras en Australië se Victorian Bushrangers sal Saterdag sowat ‘n uur later by dieselfde stadion plaasvind, het die BBC-nuusagentskap in Indië berig.
Talle militantegroepe veg sedert 1989 vir die onafhanklikheid van Kashmir.
Meer 68 000 mense is reeds dood weens dié konflik.
-Sapa-AP