Philander beseer in oefening
2011-12-24 13:40
Durban – Die Proteas-snelbouler Vernon Philander het sy linkerknie beseer terwyl hy in die nette geboul het voor volgende week se tweede toets teen Sri Lanka.
Suid-Afrika se spanbestuurder, Mohammed Moosajee, het gesê dié ster-nuweling, wat 24 paaltjies in sy eerste drie toetse geneem het, het ‘n ligament in sy knie beseer.
Hy het egter bygevoeg die spanbestuur is vol vertroue dat hy gereed sal wees om in die toets, wat Maandag begin, te speel.
“Môre, wanneer van die swelling gesak het en die inflammasie weg is, sal hy toegelaat word om te boul. As hy sonder ongemak kan boul, behoort hy reg te wees,” het Moosajee gesê.
Philander het 10 paaltjies geneem in die eerste toets, wat Suid-Afrika met ‘n beurt en 81 lopies gewen het.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- AP