Pakistanse paaltjiewagter glo by lughawe gevind
2010-11-08 16:27
Kaapstad – Die ‘vermiste’ Pakistanse paaltjiewagter, Zulqarnain Haider, is glo gevind, het die krieket webwerf www. cricinfo.com berig.
Die krieketspeler is glo by die lughawe in Dubai gevind waar hy gereed gemaak het om na die Verenigde Koninkryk te vlieg voordat hy terug na Pakistan sou gaan.
Hoekom Haider gekies het om sy span voor hul finale eendagwedstryd teen Suid-Afrika te verlaat is steeds onbekend.
Maar volgens die span se bestuur het die speler glo Sondagaand sy paspoort gevra en gesê hy het dit vir iets nodig.
Net voordat Haider spoorloos verdwyn het, het hy 'n onduidelike boodskap op Facebook geplaas, "leaving pakistan cricket because get bad msg fr 1 man fr lose the match in last game."
Volgens die webwerf, beweer Haider se broer Raza dat die speler glo dreigemente ontvang het na die vierde eendagwedstryd Vrydag teen die Proteas waarin hy die wenlopies aangeteken het.
“Ek het met Zulqarnain na die wedstryd gepraat en hy het aan my gesê dat hy dreigemente ontvang het. Maar hy het nie verdere inligting bekendgemaak nie,” het Raza gesê.
Haider se familie het ook nie geweet dat hy oppad huis toe was nie.
Die saak word ondersoek.
- Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24