Pakistan waarsku Mickey Arthur
2010-11-08 18:37
Islamabad - Pakistan se krieketraad (PCB) het Maandag die voormalige afrigter van die Proteas, Mickey Arthur, gewaarsku om nie sy omstrede uitlatings oor wedstydknoeiery deur die Pakistanse krieketspan in sy outobiografie, Taking the Mickey, te herhaal nie.
Die PCB het 'n versoek van drie bladsye lank aan Arthur deur hul prokureur, Tafazzul Rizvi, gestuur waarin die voormalige breier gewaarsku word om nie sy uitlatings te publiseer nie.
"Gee jou skriftelike waarborg dat jou outobiografie,Taking the Mickey, nie soortgelyke lasterlike en minagtende uitlatings teen Pakistan se krieketspan en sy lede sal bevat nie," het die regsversoek gelui.
Arthur is ook gevra om 'n voorstel vir die betaling van 'n "aansienlike bedrag" in skadevergoeding aan die PCB te maak.
Verlede maand het Arthur aan Sport24 gesê die Suid-Afrikaanse krieketspan het ’n sterk vermoede gehad dat daar met die uitslag van ’n bepalende kitswedstryd teen Pakistan drie jaar gelede geknoei is.
Die PCB het Arthur 'n week gegee om op hul versoek te reageer.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24