Pakistan kla oor IPL-afjak
2010-01-23 06:19
Lahore, Pakistan - Die Pakistanse Krieketraad (PCB) gaan ‘n klag by die Internasionale Krieketraad (IKR) indien nadat sy spelers in vanjaar se veiling van die Indiese Premierliga, almal oor die hoof gesien is.
Nie een van die agt IPL-franchises het ‘n aanbod vir enige van die 11 Pakistanse spelers, insluitende hul Twintig20-kaptein Shahid Afridi, gemaak nie.
Ijaz Jhakrani, Pakistan se minister van sport, het dié uitsluitings 'n “ernstige aangeleentheid" genoem.
Pakistan is die huidige Twintig20-kampioene nadat hulle Engeland verlede jaar in die eindstryd geklop het.
Nadat hy met die voorsitter van die PCB in Lahore ontmoet het, het Jhakrani gesê, “dit was 'n eenparige besluit om hierdie kwessie na die hoogste forum te neem en ‘n klag by die IKR in te dien.”
- Sapa-AP