Pakistan-breier prys SA-snelboulers
2013-02-03 08:45
Johannesburg – Pakistan se afrigter, Dav Whatmore, het die 'ongelooflike' vertoning deur Suid-Afrika se snelboulers geprys nadat sy span Saterdag vir 49 uitgehaal is op die tweede dag van die eerste toets by die Wanderers in Johannesburg.
Dit is Pakistan se laagste toetstelling nog. Die span se vorige rekord was 53 lopies teen Australië in 2002/2003.
"Ek het nog nooit twee ure van meedoënlose, briljante snelboul-aanval gesien soos wat ek vandag aanskou het nie," het Whatmore gesê.
Dale
Steyn het die grootste skade aangerig deur ses paaltjies vir die verlies van slegs 8 lopies in 8.1 beurte te neem.
Suid-Afrika sit Sondagoggend sy tweede beurt voort met 'n algehele voorsprong van 411 met sewe paaltjies steeds staande.
Graeme Smith het besluit om nie 'n opvolgbeurt af te dwing nie, en teen die einde van Saterdag se spel was die Proteas se telling 207/3 in die tweede beurt.
Hashim Amla met 50 en AB de Villiers met 63 sit Sondagoggend hul kolfbeurt voort.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24