Pakistan: Spelers word van verraad aangekla
2010-08-31 04:18
Lahore – ‘n Pakistanse prokureur het Maandag die nasionale krieketspelers wat glo wedstryde in ruil vir geld gemanipuleer het, van verraad aangekla.
Volgens Ishtiaq Ahmed sal sy saak Dinsdag in die hooggeregshof in Lahore aangehoor word.
Ahmed meen die beweerde wedstrydknoeiery lei tot oneerlikheid teenoor die nasie en val onder die wet van verraad.
Die verdagte spelers het die hele nasie in die steek gelaat en die wetgewing van die land oortree, meen Ahmed.
Sewe Pakistanse nasionale spelers sal deur die polisie ondersoek word oor die beweerde knoeieryskandaal wat Sondag in ‘n Britse koerant, News of the World, aan die lig gekom het.
Mazhar Majeed, ‘n Britse eiendomsontwikkelaar en sportagent, het glo geld aan Pakistanse spelers betaal om swak te speel tydens die vierde en finale toets teen Engeland by Lord’s.
In Pakistan kan verraad tot die doodstraf lei.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AFP