Onafhanklike ondersoek vir KSA
2011-05-04 23:15
Johannesburg - Krieket Suid-Afrika het ingestem om Mtutuzeli Nyoka as president te herstel en sal ‘n onafhanklike ondersoek na die liggaam se finansies hou.
“Die raad het ingestem om, in die belang van krieket, in te gee tot die uitspraak in die Suid-Gautengse hooggeregshof op 15 April,” het KSA in ‘n verklaring gesê nadat die raad van direkteurs Woensdagaand in Johannesburg vergader het.
“Dr Nyoka is as president en voorsitter van die raad van direkteurs herstel met onmiddellike effek.
“Die vergadering het eenparig besluit om enige appèlprosesse rakende die uitspraak agter te laat.
“Daar is besluit om ‘n eksterne, onafhanklike ondersoek, insluitende ‘n forensiese oudit, van stapel te stuur, met betrekking tot die mandaat wat aan die Khan Hersieningskomitee gegee is.”
Verteenwoordigers van die Departement van Sport en Ontspanning, die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) en KSA se regs- en bestuurskomitee was ook by die vergadering teenwoordig.
“Dit was ‘n goeie vergadering, maar ek dink nie ‘n mens kan eerlikwaar sê daar was geen probleme nie,” het Nyoka gesê.
“Dit het maar op en af gegaan, maar die voordeel wat ons in krieket het, is dat ons mense met goeie leierseienskappe het.”
Nyoka is in Februarie afgedank, maar KSA is aangesê om hom as president te herstel ná ‘n hofuitspraak wat bevind het dat hy onwettig afgedank is. KSA het aanvanklik gesê hulle sal appèl aanteken.
Nyoka het gedreig om die deksel oor korrupsie in krieket oop te maak nadat sy beroepe op ‘n onafhanklike ondersoek na bonusse wat verlede jaar aan 40 KSA-personeellede - insluitende Gerald Majola, die uitvoerende hoof – op dowe ore geval het.
Hy het aan die hof gesê dat R68 miljoen uit ‘n KSA-bankrekening vermis geraak het.
Dié bonusse, waarvan Majola self meer as R1?miljoen ontvang het, spruit uit die aanbieding van die Indiese Premierliga (IPL)-toernooi en die Kampioenetrofee-reeks en is nooit aan KSA se uitvoerende raad óf finansiële en besoldigingskomitee verklaar nie.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA