Oë op kolfblad ná druk op baanopsigter
2010-02-12 08:59
ALTUS MOMBERG
Kolkata - Alle oë sal op Eden Gardens se kolfblad wees wanneer die Suid-Afrikaanse krieketspan vanoggend met sy voorbereiding vir die tweede toets teen Indië begin.
Prabir Mukherjee (baanopsigter) is onder geweldige druk om ’n paradys vir Indië se draaiers voor te berei.
Indië is desperaat om sy nr. 1-plek op die toetsranglys te behou en moet hier wen om dít te vermag. Die toets begin Sondag.
Mukherjee het tot dusver geweier om onder die druk te swig – daar was selfs ’n hoofartikel in Indië se grootste Engelse koerant, The Times of India, wat gevra het dat die blad voorberei moet word om Indië se draaiboulers te bevoordeel.
Indië was in dieselfde posisie twee jaar gelede voor die derde toets in Kanpur. Suid-Afrika was met 1-0 voor in die reeks en die tuisspan was desperaat om ’n reeksnederlaag te vermy.
Die kolfblad is toe “gedokter” om seker te maak dat die Indiese draaiboulers ’n deurslaggewende invloed op die uitslag gaan hê.
Al die gras is afgeskeer, die blad is nie vir ’n paar dae voor die toets natgemaak nie en net ’n ligte roller, pleks van die gewone swaar roller, is gebruik om seker te maak dat die draaiers soveel hulp moontlik kry. Die plan het gewerk en Indië het die toets binne drie dae gewen.
Mickey Arthur, die Proteas se afrigter in dié reeks, het ná die toets gesê dat die blad op die tweede dag al gelyk het soos wat dit gewoonlik op die vyfde dag sou lyk. Die Internasionale Krieketraad het agterna ook die blad gekritiseer.
Dit is nie die eerste keer dat Mukherjee en die Indiese spanbestuur haaks is nie.
Greg Chappell, ’n gewese Indiese breier, het in 2005 gevra die gras afgeskeer moet word voor ’n kitsstryd teen Suid-Afrika. Die baanopsigter het geweier en die Proteas het gewen.
Graeme Smith het destyds ’n onoorwonne 134 uit die Proteas se totaal van 189 sonder verlies gemoker. Dit is interessant dat ’n amptenaar van die Indiese Krieketraad op dieselfde dag ’n versoek gerig het om die kolfblad hier te “dokter” as wat Indië se appèl teen Delhi se skorsing as internasionale veld van die hand gewys is.
Delhi is vir ’n jaar as ’n internasionale veld geskors toe ’n eendagwedstryd tussen Indië en Sri Lanka op 27 Desember afgelas is nadat die skeidsregters beslis het dat die kolfblad gevaarlik was.
- Beeld