Nyoka 'n 'slang' – Majola
2011-12-11 23:01
Kaapstad – Gerald Majola, die uitvoerende hoof van Krieket SA, het vir die eerste keer in die openbaar uitgevaar teen Mtutuzeli Nyoka, wat in Oktober as KSA se president afgedank is ná 'n bittere konflik tussen die twee.
Nyoka is gewikkel in 'n voortslepende dispuut met KSA en veral Majola. Hy het gedreig om korrupsie in krieket te ontbloot, en het ook gevra dat bonusse wat verlede week aan 40 KSA-werknemers betaal is, ondersoek moet word.
Hy is in Februarie die trekpas gegee, maar KSA is aangesê om hom weer aan te stel ná 'n hof bevind het dat hy onregverdig afgedank is. Hy is in Oktober vanjaar weer afgedank.
Majola het verlede week voor 'n kommissie van ondersoek in die KSA se finansies erken dat hy stilgebly het oor 'n bonus van R1,8 miljoen wat hy ontvang het nadat Suid-Afrika in 2009 die Indiese Premierliga aangebied het.
"Miskien was dit 'n fout om so lank stil te bly want in die oë van die krieketpubliek is ek al skudlig die eerste keer wat Nyoka na die media gehardloop het," het Majola aan Rapport gesê.
“Hy het al jare lank sy mes in vir my. Toe hy nog president van die Gautengse krieketraad was, het hy my ’n buffoon genoem en gesê ek is gekant teen transformasie.
“Hy is ’n slang soos sy van (in Zoeloe) sê en net hy sal weet waarom hy dié goed kwytgeraak het.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24