Nuwe rol vir KP
2012-08-24 11:30
Nieu-Delhi – Kevin Pietersen gaan as 'n tv-kenner by die T20-wêreldtoernooi ingespan word waar hy deel sal wees van die amptelike uitsaaier se ontledingspan.
Die Suid-Afrikaans-gebore Pietersen is nie vir die Wêreldtoernooi in Sri Lanka gekies nie nadat hy neerhalende SMS-boodskappe gestuur het waarin hy die toetskaptein Andrew Strauss kritiseer.
Engeland se breier, Andy Flower, het "onopgeloste" kwessies van vertroue en respek genoem nadat Pietersen blykbaar koppe gestamp het met 'n aantal van sy voormalige spanmaats.
Die ESPN-Star Sports-netwerk, amptelike uitsaaier van die Twintig20-wêreldtoernooi, het gesê die 32-jarige sal deel wees van die aanbieding- en ontledingspan vir die toernooi wat vanaf 18 September tot 7 Oktober plaasvind.
"Ons is verheug dat een van die grootste name deel is van ons span en sien uit om van iemand te hoor wat die formaat ken en baie van die huidige sterre weet," het die uitsaaier se besturende direkteur, Peter hutton, Vrydag in 'n verklaring gesê.
Pietersen is as die speler van die toernooi aangewys toe Engeland die 2010 Wêreldtoernooi in die Karibiese Eilande gewen het.
Die verklaring het Pietersen ook aangehaal waar hy sê dat hy "opgewonde is om met ESPN-Star Sports te werk en te sien hoe Engeland hul titel verdedig."
Hy sal ook 'n rol speel in die publisiteit en bevordering van die toernooi, het die netwerk bevestig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.