Nou’s dit oorlog vir Proteas
2011-10-12 10:07
Kaapstad – Suid-Afrika se krieketspan kry van môre af die kans om namens die land se sportondersteuners wraak te neem vir die sieldodende nederlaag wat die Springbokke Sondag teen die Wallabies in die Wêreldbeker-rugbytoernooi gely het.
Die Proteas en die Australiërs gaan die volgende vyf weke in twee twintig20-, drie eendagwedstryde en twee toetse swaarde kruis.
Die stryd begin hier op Nuweland met die eerste t20-stryd.
Alle oë gaan gevestig wees op die tweestryd tussen die Australiërs se gevaarlike aanvangskolwer David Warner en die Proteas se groot angel, Morné Morkel.
Warner het al in die verlede die Suid-Afrikaanse boulaanval flenters geslaan. Hy het ook in die onlangse Kampioeneliga in Indië gewys dat hy goed op dreef is en die groot gevaarman gaan wees.
Warner het internasionale krieket in 2009 met ’n groot fanfare betree.
Hy het as ’n 22-jarige aanvangskolwer 89 lopies van net 43 balle gemoker.
Dié beurt teen die Suid-Afrikaners het reuse-sesse op die MCG in Melbourne ingesluit.
Dale Steyn en Makhaya Ntini het daardie dag albei deurgeloop.
In sy laaste twee beurte in die Kampioeneliga het hy twee groot honderdtalle gemoker. Sy 135 lopies (69 balle) teen die Chennai Super Kings het ’n plek in die halfeindronde vir die NSW Blues verseker.
Hy het toe 123 lopies (68 b) teen die Royal Challengers Bangalore in die halfeindstryd aangeteken.
Suid-Afrika sou ’n baie groot deel van sy beplanning voor môre se wedstryd afstaan om ’n plan te kry om Warner aan bande te lê.
En dié verantwoordelikheid gaan waarskynlik op die breë skouers van Morkel val.
Morkel se gebruiklike aanvangsvennoot, Steyn, kry ’n ruskans vir die twee t20-wedstryde en die hemelbesem sal straks die nuwe bal teen die Aussies moet neem.
“Om die aanval te lei was nog altyd een van my doelwitte. Dis beslis een van die dinge wat ek geteiken het vir die dag wat Dale nie daar gaan wees nie,” het Morkel gister gesê.
Dit is egter nie net die Morkel/Warner-tweestryd waarvoor kenners hul lippe aflek nie.
Richard Levi (23), ’n stewige aanvangskolwer van die Cape Cobras, gaan probeer om dieselfde impak vir sy span as Warner te hê.
In sy pad staan die 18-jarige blits Pat Cummins.
Hy het sy buiging vir New South Wales verlede seisoen gemaak en was amper onmiddellik ’n ster. Hy was die grootste paaltjievraat in die Big Bash-toernooi en hy het sy 11 paaltjies teen ’n gemiddelde van 14.09 geneem.
Shane Watson het gesê hy kan nie wag om Cummins op dié vlak te sien nie.
“Ek dink nie julle het al te veel van hom gesien nie, maar hy is ’n besonder talentvolle bouler.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger