Nou vir die uitklophou
2011-11-17 07:34
Johannesburg – Graeme Smith, die Suid-Afrikaanse krieketkaptein, sê sy span moet die reg verdien om die toetsreeks teen Australië te wen.
“Ons aanvaar niks as vanselfsprekend nie,” het Smith gister hier by die Wanderers gesê, waar die tweede en laaste toets in die reeks vandag begin.
Suid-Afrika loop met 1-0 voor in die reeks nadat hy verlede week in Kaapstad geseëvier het.
“Wat daar (Nuweland) gebeur het, behoort tot die verlede. Hierdie is ’n nuwe toets met nuwe uitdagings. Ons sal van voor af moet begin om hulle (Aussies) onder druk te plaas en die reg moet verdien om hierdie toets en ook die reeks te wen.
“Dit gaan baie belangrik wees dat ons goed begin en ’n goeie eerste dag moet hê. Ons is realisties oor die taak wat op ons wag.
“Ons het baie respek vir die Aussies en weet hulle gaan met ’n geweldige aanslag kom. Daar is egter groot opwinding vir hierdie toets en jy voel dit sommer so aan,” het Smith gesê.
Volgens hom is die SA span se fokus daarop om dít wat hy kan beheer, suksesvol te doen.
“Ons wil nie betrokke raak by ’n situasie oor wat in die kleedkamer langsaan ons s’n aan die gang is nie.
“Daarom dink ons nie juis veel oor wat hulle gaan doen om sake te red en die reeks gelykop te laat eindig nie.
“Ek bekommer my ook nie juis oor wie hulle gaan kies en wie nie. Dis nie vir my belangrik nie.
“Ek wil net daarop fokus oor wat ons goed moet doen om die toets te kan wen.
“Dit gaan nodig wees om hulle sommer al vroeg in die toets onder druk te plaas en dit vol te hou.”
Smith het ook aangedui dat Suid-Afrika nie sommer sonder ’n draaibouler sal speel nie.
Dit wil voorkom asof dieselfde span wat in die Kaap gespeel het, weer in aksie gaan wees.
Dit beteken dat vir die eerste keer in die roemryke geskiedenis van 84 toetse tussen dié lande, daar ’n Pakistani van geboorte in albei spanne kan wees.
Dit sal Imran Tahir en Usman Khawaja wees.
Smith sê dis altyd iets spesiaal om die Aussies te klop, hoewel ’n reekssege hier “nie die grootste ding in my krieketlewe sal wees nie, want ons het hulle darem al daar in Australië op hul eie bodem geklop.”
Al het Suid-Afrika sy laaste vier toetse hier op die Wanderers teen die Aussies verloor, beskou Smith dit steeds as ’n veld waar Suid-Afrika van sy beste krieket speel en gewoonlik die beste in sy spelers na vore bring.
Suid-Afrika (uit):
Graeme Smith (k), Jacques Rudolph, Hashim Amla, Jacques Kallis, AB de Villiers, Ashwell Prince, Mark Boucher, Vernon Philander, Dale Steyn, Morné Morkel, Imran Tahir, Lonwabo Tsotsobe, Paul Harris.
Australië (uit):
Shane Watson, Phil Hughes, Usman Khawaja, Ricky Ponting, Michael Clarke (k), Michael Hussey, Brad Haddin, Mitchell Johnson, Peter Siddle, Ryan Harris, Nathan Lyon, Pat Cummins, Trent Copeland, David Warner.
Skeidsregters: Billy Bowden (NS) en Ian Gould (Eng).
TV-skeidsregter: Billy Doctrove (WIE)
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
Stem
Die Proteas takel die Aussies Donderdag weer op die Wanderers. Hoe lyk ons kanse dié keer?
|
Ons gaan wen – vir seker!
|
43%
43
|
|
Australië gaan nie sommer weer verloor nie...
|
40%
40
|