Nóg rekords wink vir Proteas
2013-02-22 07:00
Centurion – Graeme Smith en sy Suid-Afrikaanse krieketspan kan maar net hoop die geskiedenis herhaal homself nie van Vrydag af hier op SuperSport-park in die laaste toets teen Pakistan nie, berig Beeld.
Die vorige keer dat Suid-Afrika onoorwonne was in 14 agtereenvolgende toetse, het daardie rekord juis hier gesneuwel.
Dit was in 2000, toe Suid-Afrika sy enigste toets tot nog toe in Centurion verloor het – ’n omstrede nederlaag teen Engeland met bewerings van wedstryd-knoeiery. Slaag Suid-Afrika daarin om nie teen Pakistan te verloor nie, sal dit ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 15 agtereenvolgende toetse sonder ’n nederlaag wees.
Daar is dus genoeg vir Smith-hulle op die spel om die toets nie ligtelik op te neem nie, al is die reeks reeds beklink.
“Omdat hierdie toets so kort ná die vorige een op Nuweland is, is ons nog geestelik skerp en vars genoeg vir die uitdaging,” het Smith Donderdag gesê.
Hy kan ook die eerste kaptein in die geskiedenis van toetskrieket word wat 50 toetsoorwinnings behaal.
“Ja, dit sal iets spesiaal wees, maar in ons strewe om ’n baie spesiale nalatenskap te kweek in Suid-Afrikaanse krieket, kyk ek heelwat verby die 50-tal,” het hy gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter