Nóg 'n slag tref Kiwi's voor SA-reeks
2012-12-20 14:47
Kaapstad – Die snelbouler Tim Southee sal die toetsreeks teen Suid-Afrika misloop nadat hy sy duim tydens 'n veldwerksessie beseer het.
Die besering sal hom na verwagting twee maande op die kantlyn hou, het die Nieu-Seelandse krieketraad (NZC) Donderdag gesê.
"Tim Southee sal ongelukkig nie in die toetsreeks teen die Proteas speel nie," het die span se fisioterapeut, Paul Close, in 'n verklaring gesê.
"Hy het hard op sy duim geland toe hy besig was met veldwerk en verdere toets dui op 'n ligament wat heeltemal geskeur is."
"Nadat daar met die NZC se mediese span gekonsulteer is is besluit dat dit die beste sal wees as hy vir 'n operasie gaan."
Nieu-Seeland het nog nie op 'n plaasvervanger vir die 24-jarige bouler besluit nie.
Vir die jongste sportnuus volg
Nuus24Sport op Twitter.
–
Sport24