Nel probeer selfmoord ná prostituut-onthulling
2010-10-03 06:48
Eduan Roos en Pieter-Louis Myburgh
Johannesburg - André Nel het glo probeer selfmoord pleeg nadat nóg drie vroue,
waaronder ’n prostituut, die naweek gebieg het oor hul beweerde
buite-egtelike verhoudings met dié voormalige Protea-krieketspeler.
Deanne
Weitz, Nel se swanger vrou, het eergisteraand aan Rapport bevestig dat
dokters na die egpaar se spoghuis in Irene buite Pretoria ontbied moes
word nadat Nel sy eie lewe probeer neem het. Sy verwag hul eersteling in
April.
“Hy is buite enige onmiddellike gevaar en daar is ’n klomp dokters wat na hom omsien,” het sy gesê.
Sy wou egter nie uitwei oor die selfmoordpoging of wat presies daartoe aanleiding gegee het nie.
Weitz
het vroeër die dag “vir ’n onbepaalde tyd” by haar ouers in Benoni
ingetrek nadat dit aan die lig gekom het dat Nel die Pretoriase
prostituut sedert November 2007 vier keer besoek het vir seks en dat sy
dié besoeke in haar kliënteboekie aangeteken het.
Volgens dié vrou het Nel hom as ene Patrick, ’n fietsryer, aan haar voorgestel en R400 kontant opgedok vir elk van die besoeke.
Dit
volg nadat Jelena Kultiasova vroeër aan The Times onthul het dat
sy en Nel ’n twee weke lange verhouding gehad het terwyl hy laas maand
in Engeland graafskapkrieket gespeel het.
Dié dagblad het
eergister berig dat twee ander vroue, een van Durban en die ander van
Londen, met soortgelyke bewerings oor Nel na vore gekom het en dat hy
verskeie verdoemende SMS’e, e-pos-boodskappe en pornografiese foto’s aan
een van hulle gestuur het.
Nel het erken hy het “twee, of
moontlik drie keer” by Kultiasova geslaap en het eergister aan Beeld,
Rapport se susterkoerant, gesê hy het “net een keer” by die prostituut
geslaap.
Hy het egter later gesê hulle het “net foonseks gehad” en dat hy haar nooit besoek het nie.
Weitz
het eergister in ’n SMS-boodskap aan Beeld gepleit dat die prostituut
se bewerings nie gepubliseer word nie: “Please don’t run story!!! Andre
has just attempted suicide!! PLEASE.”
Nel self het gisteroggend
in ’n SMS aan dié dagblad bevestig dat hy probeer het om homself om die
lewe te bring: “Danki (sic), selfmoord probeer gestraad (sic).”
Weitz het dié SMS’e gister by navraag aan Rapport ontken.
“Dit is onwaar. Waarom kyk julle (die media) nie of ek ’n miskraam het nie en skryf dán daaroor?”
- Rapport