André Nel se laaste strooi
2010-10-02 09:00
Pretoria - Die Suid-Afrikaanse krieketheld André Nel het gister gebieg dat hy by ’n Pretoriase prostituut geslaap het en dat dít “die laaste strooihalm kan wees” vir sy swanger vrou.
’n Emosionele Nel het ook bevestig dat Deanne Weitz, met wie hy in Januarie 2004 getroud is, laat Vrydagmiddag uit hul spoghuis in Irene buite Pretoria getrek het.
Nóg drie vroue het gister na vore gekom oor beweerde buite-egtelike verhoudings met die 33-jarige voormalige Protea-snelbouler.
Benewens dié drie is drie ander vroue ook al in verdagte omstandighede in sy teenwoordigheid gesien.
Die onthullings het begin toe Nel eergister aan The Times bevestig het dat hy en Jelena Kultiasova “twee of moontlik drie keer” seks gehad het.
Dié twee was sowat twee weke lank in verbinding nadat hulle mekaar in ’n nagklub in Londen ontmoet het waar hy tot verlede maand nog graafskapkrieket gespeel het.
Die dagblad het gister berig dat nóg twee vroue, een van Durban en een van die Engelse hoofstad, soortgelyke bewerings doen teen Nel en dat hy verskeie verdoemende SMS’e, e-pos-boodskappe en pornografiese foto’s aan een van hulle gestuur het.
Terselfdertyd het ’n prostituut van Pretoria Beeld gister gekontak en vertel dat Nel haar vier keer besoek en dat sy dit so in haar kliënteboekie aangeteken het.
Nel het by navraag eers gesê hy het “net een keer by haar geslaap”, maar later gesê dat hulle “net foonseks gehad het” en dat hy haar nooit besoek het nie.
“My vrou gaan deur hel. Tot dusver staan sy by my, al is dit baie moeilik vir haar, maar dit sal die laaste strooihalm wees as my naam aan ’n prostituut gekoppel word,” het hy gesê.
“Ek het baie foute gemaak en ek is vreeslik spyt daaroor, maar al wat ek nou vra, is dat ek en my vrou ’n kans gegun word om ons huwelik te probeer red. Ek wens die hele ding kan net verdwyn.”
Volgens hom sal sy vrou ’n “onbepaalde tyd” by haar ouers in Benoni bly.
Sy het aan Beeld gesê die paartjie was reeds vir berading en “skree heeltyd op mekaar”.
“Ek is in ’n baie sensitiewe stadium van my swangerskap en dié is glad nie goed vir my baba nie.”
Die Nel-egpaar verwag hul eersteling begin April.
- Nel was glo in 2008 ook deurmekaar met me. Lucy Benjamin, ’n joernalis wat nou ’n beampte van die Internasionale Krieketraad is.
- Die vrou van ’n voormalige spanmaat het gister aan Beeld vertel hoe Nel in Maart 2005 ’n onbekende vrou “omhels en gesoen” het op die parkeerterrein van die Wanderers-stadion kort nadat die Proteas krieketgeskiedenis gemaak het deur Australië in die sogenaamde 438-wedstryd te klop. Nel en dié vrou is glo ’n paar keer daarna saam gesien.
- Beeld verneem ook op onberispelike gesag dat hy hom in November 2006 (kort ná die Proteas se eendagwedstryd teen Indië in Port Elizabeth) as sy spanmaat Andrew Hall aan ’n vrou voorgestel en na sy kamer in die spanhotel genooi het. Dié vrou was die volgende oggend glo “erg omgekrap” nadat Nel haar uitgeskop het en het by die hotelbestuur aangedring daarop om met “Hall” te praat.
Die lys- Onbekende vrou by Wanderers – Maart 2005
- Onbekende vrou in Port Elizabeth – November 2006
- 'n Pretoriase prostituut – 20 November 2007, 8 September 2008, 18 Januarie 2009 en 19 November 2009
- Durbanse vrou – Oktober 2008 tot Maart 2009
- Me. Lucy Benjamin in Londen – Augustus 2008
- Londense vrou, net bekend as Juliette – April 2009 tot September 2009
- Me. Jelena Kultiasova in Londen – twee weke in Augustus 2010
Die Britse minnares
Me. Jelena Kultiasova

Die Pretoriase prostituut het Nel se besoeke aan haar aangeteken. Die laaste besoek was op 19 Maart 2009.
Foto: Lisa Hnatowicz