‘Moeë’ Proteas fyn dopgehou in IPL
2010-03-11 09:47
Altus Momberg
Kaapstad, Die Burger - Die Proteas se breintrust gaan die Suid-Afrikaanse krieketspelers noukeurig monitor wanneer hulle later vandeesmaand in die Indiese Premierliga (IPL) deelneem.
Corrie van Zyl, die Proteas se nuwe breier, het Woensdag gesê hy is effe bekommerd oor die werklas van sy spelers in die aanloop tot die Twintig20-Wêreldtoernooi op die Wes-Indiese Eilande in Mei.
Van Zyl het gesê hy gaan die spelers fyn dophou om te sien of hulle te veel speel.
“Daar is natuurlik ’n klomp oorsese spelers by elke span en daar mag net vier op ’n slag speel. Heelparty van hulle gaan dus nie in al die wedstryde speel nie,” het Van Zyl gesê.
Dié afrigter het gesê hy gaan ook volgende week ’n lys van instruksies aan die Proteas in Indië stuur.
“Van die spelers gaan bitter min speel en ek gaan vir hulle programme met spesifieke oefeninge deurgee wat daarop gemik is om sekere afdelings van hul spel te verbeter.”
Van Zyl het toegegee dat dit moeilik gaan wees om vir die IPL-spanne te vra om die spelers te laat rus.
“Die IPL spanne moet egter ook verstaan dat ons vereistes vir ons spelers ’n prioriteit is.
“Brandon Jacobs (die Proteas se fisioterapeut) en Rob Walters (die span se fiksheidsafrigter) is reeds in verbinding met hul eweknieë by die IPL-spanne en hulle gaan my help om die spelers te monitor,” het Van Zyl gesê.
Daar is egter kommer dat die Proteas op hul laaste bene kan wees wanneer hulle op die Wes-Indiese Eilande land. Hulle speel al sedert die Toernooi om die Kampioene-trofee in September verlede jaar amper onophoudelik.
Die Proteas se afrigter vergader intussen vandag met die ses franchise-afrigters in Port Elizabeth in ’n poging om hul toekomstige samewerking te verbeter.
“Ek dink dit is uiters belangrik dat ek die reeds goeie verhouding wat ek met hulle het, verder uitbou. Die franchise-spanne en die nasionale span kan nie in isolasie werk nie. Albei is afhanklik van mekaar.
“Ek wil graag hê dat dié afrigters as my verkenners moet optree. Hulle is die ouens wat die franchise-spelers die meeste sien en ek wil graag van hul kennis gebruik maak.”
Van Zyl het die laaste seisoen, in sy hoedanigheid as die Krieket Suid-Afrika se prestasiebestuurder, ’n goeie werksverhouding met al die franchise-afrigters opgebou.
Van Zyl het gesê hy wil ook hê dat dié ses afrigters en hy die volgende Suid-Afrikaanse A- en die Opkomende Proteas-span moet kies.
“Hulle weet beslis wie die beste spelers in die land is. Ek dink nie daar gaan regtig meer as net ’n paar meningsverskille wees as ons om ’n tafel sit om die spanne te kies nie.
“Die spanne sal dan aan die nasionale keurkomitee voorgelê word vir goedkeuring,” het Van Zyl gesê.
- Die Burger