Moeder van alle seges
2011-03-13 06:57
Nagpur - Dit het 19 jaar se wag en emmersvol trane geverg, maar Saterdag was die Suid-Afrikaanse krieketspan uiteindelik aan die régte kant van ’n Wêreldbeker-riller – danksy een van die merkwaardigste terugvegpogings in die geskiedenis van dié toernooi.
Die Proteas het Indië in ’n stampvol VCA-stadion met 3 paaltjies (en net twee aflewerings) geklop en hul plek in die kwarteindronde bespreek, nadat sikloon Sachin hul Beker-kanse vroeër feitlik in puin gelaat het.
Menige kenner – waaronder die uwe – het Graeme Smith se span laasnaweek gekruisig ná hul skoknederlaag teen Engeland, tog het dié Protea-kaptein volgehou dat sy groep “iets besonder is”.
En hy was rég.
Eers het Dale Steyn (5/50) ’n verstommende kolf-ineenstorting bewerkstellig, waarna Faf du Plessis (25* lopies, 23 balle, 1x6) en Robin Peterson (18*, 7b, 2x4, 1x6) senuwees van staal getoon het om die besoekers oor die onwaarskynlike wenstreep te kry.
Min boul-aanvalle sou staande kon bly teen Tendulkar (111, 101b, 8x4, 3x6) en Virender Sehwag (73, 66b, 12x4), wat saam in ’n oogwink 142 lopies om die eerste paaltjie opgestapel het en die Suid-Afrikaanse boulers geslag het soos laas in die 438-wedstryd gesien is.
Heel ironies was dit Saterdag presies vyf jaar sedert dié geskiedkundige kragmeting op die Wanderers, maar vir twee ure lank het dit haas onwaarskynlik gelyk dat die Proteas dié keer bo sou uitkom.
Sehwag het sy voorneme reeds met die eerste aflewering van die wedstryd duidelik gemaak, deur Steyn moeiteloos oor die kop van Morné Morkel op halfby te lig.
Sake kon egter soveel anders vir die Proteas verloop het as die gewoonlik betroubare paaltjiewagter, Morné van Wyk, in net die volgende beurt aan ’n Sehwag-buiterand van Morkel se boulwerk vasgeklou het.
Tot dusver by WB 2011 het elkeen van Smith se planne soos ’n bom gewerk, maar Saterdag het dit vir meer as twee ure lank sonder uitsondering in sy gesig ontplof.
Van Wyk het boonop aan Sehwag nóg ’n lewe gegun, voordat hy Du Plessis (1/22) se eerste internasionale slagoffer geword en tydelike verligting aan die bomskok-besoekers besorg het.
Dít was egter van korte duur, aangesien Tendulkar en Gautam Gambhir (69, 75b, 7x4) daarna ’n verdere 125 gemoker het.
Tendulkar se vertrek het egter die spreekwoordelike damwal laat bars en kon die laaste nege Indiese kolwers net 54 balle lank staande bly en ’n skamele 29 lopies aanteken.
Só hulpeloos as wat Steyn in sy eerste boulskof was, só raak het hy gevat met sy besluitneming én uitvoering in die pylvak – soos die paaltjies van Gambhir, Yusuf Pathan (0, 2b) , Harbhajan Singh (3, 9b), Ashish Nehra (0, 3b) én Munaf Patel (0, 1b) getuig.
Nadat Smith (16, 29b, 2x4) vir die soveelste keer nie hond-haaraf kon maak nie teen Zaheer Khan (1/43), het Hashim Amla (61, 72b, 5x4) en Jacques Kallis (69, 88b, 4x4) ’n berekende 86 lopies om die derde paaltjie opgestapel.
Harbhajan Singh (3/54) het egter van Amla ontslae geraak – en toe Kallis eers uitgehardloop is, wou dit lyk na die einde.
’n Warrelwind-vyftigtal deur AB de Villiers (52, 39b, 6x4, 1x6) en flink bydraes deur JP Duminy en Johan Botha het die hoop egter laat opflikker, voordat Peterson man-alleen 13 lopies in die doodste van doodsnikke gemoker – en bykans 50 000 Indiese toeskouers tjoepstil gemaak het.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.