Mickey Arthur ontken knoei-onthulling
2010-11-09 11:29
Johannesburg - Die voormalige afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan, Mickey Arthur, het ontken dat hy beweer het wedstrydknoeiery het in 2007 in 'n kitswedstryd tussen Pakistan en die Proteas plaasgevind. En gesê sy woorde is buite konteks gebruik.
"Daar is absoluut geen waarheid aan dié storie nie. My woorde is doodeenvoudig buite konteks aangehaal. Ek het niemand van wedstrydknoeiery beskuldig nie," het Arthur Maandag aan Reuters gesê.
"In my vyf jaar van internasionale krieket het ek nog nooit iets verdags gesien nie, wat nog te sê van enige wedstrydknoeiery geweet," het hy bygevoeg.
Pakistan se krieketraad (PCB) het Arthur Maandag gewaarsku om nie uitlatings oor wedstydknoeiery deur die Pakistanse krieketspan in sy outobiografie, Taking the Mickey, te herhaal nie.
Arthur het in Oktober vanjaar aan Sport24 gesê die Suid-Afrikaanse krieketspan het ’n sterk vermoede gehad dat daar met die uitslag van ’n bepalende kitswedstryd teen Pakistan drie jaar gelede geknoei is.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24