Messe uit vir Smith-hulle
2010-05-12 08:58
Christo Buchner en Altus Momberg
Kaapstad - Graeme Smith, Jacques Kallis en Mark Boucher, drie van die Suid-Afrikaanse krieketspan se “staatsmanne” die afgelope dekade, is in die spervuur van kritici ná die Proteas se mislukking in die T20-Wêreldtoernooi.
Die drietal se koppe word deur die voormalige sameroeper van die SA keurders, Omar Henry, geëis in die SA Twintig20-span.
Te midde van ontnugtering en skok oor die Proteas se powere vertoning in die Wêreldtoernooi het Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), dit bestempel as die swakste vertoning nóg wat hy van ’n Suid-Afrikaanse krieketspan gesien het.
Henry het gister kaalvuis onder die spelers ingeklim.
“Ek sal Jacques Kallis, Mark Boucher en selfs Graeme Smith pos in die T20-span. Ek glo beslis ons moet ’n nuwe span bou en ’n nuwe rigting inslaan,” meen Henry.
Ofskoon hy baie krities oor Smith se kapteinskap in die reeks was, sal hy egter die kaptein en vir Kallis in die groep hou tot volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi op die subkontinent.
Henry het gesê daar was voorbeelde in Maandagaand se nederlaag teen Pakistan waar Smith tekortskiet as kaptein.
“Ons naatboulers het uitstekend begin en ons het Pakistan op 19/3 op die agtervoet gehad. Smith het toe die draaiboulers Johan Botha en Roelof van der Merwe saam laat boul pleks daarvan om te volhard met ’n naatbouler van een kant af. Dit het die druk op die Pakistanse kolwers verlig.
“Dis maar een voorbeeld van ’n probleem wat lankal duidelik is.”
Wat Kallis betref, het Henry sy misnoeë uitgespreek met die besluit om Kallis die beurt in blitskrieket te laat open. Sy treftempo van 116,32 steek sleg af by ander aanvangskolwers.
Majola sê om in die hitte van die oomblik gevolgtrekkings te wil maak, is gevaarlik. Hy gaan daarom met elke speler individueel praat, “want dit help nie ek praat net met die kaptein en bestuurspan nie.”
Ray Jennings, ’n voormalige SA afrigter, sê die vraag moet gevra word wie slaan die kitaar in die span.
“In sewe groot toernooie sedert Graeme Smith die kaptein is, kon nog nie een gewen word nie. Die besluitneming was swak.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24