Majola was hande in onskuld oor bonus
2011-12-06 12:40
Johannesburg – Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket SA (KSA), sê sy omstrede bonus ná die IPL-reeks in 2009 is deur die organisasie se operasionele hoof, Don McIntosh, aan hom toegeken.
"Mnr McIntosh [het my bonus toegeken], sowel as sy eie," het Majola in Pretoria aan 'n ministeriële komitee wat die KSA se geldsake ondersoek, gesê.
"Mnr McIntosh het 'n volledige skedule gedoen, insluitend syne [bonus] wat ek ook aanvaar het. Ek het nooit myne bespreek nie want dis baie moeilik om jou eie bonus te bespreek."
Majola het vir die eerste keer getuig as deel van 'n ondersoek na die geldsake van KSA.
Majola het ook gesê die kontrak wat geteken is vir die PSL-toernooi was presies dieselfde as die kontrakte wat gebruik is vir enige ander toernooie van die Internasionale Krieketraad.
Don McIntosh, KSA se operasionele hoof, was die toernooidirekteur van die IPL, het Majola gesê.
Majola het gesê dieselfde prosedure is gebruik om bonusse vas te stel as met enige ander toernooi.
"Die toernooidirekteur is meer senior wanneer dit daarby kom [bonusse]," het Majola gesê.
"Hy het meer as ek gekry met ander toernooie maar met hierdie een [IPL], het ek meer werk as hy gedoen."
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA