Majola in trane ná getuienis
2011-12-07 08:56
Pretoria – Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het Dinsdag ná sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na KSA se geldsake in trane uitgebars toe hy aan joernaliste vertel het van die “nagmerrie waardeur ek en my gesin is”.
“Ek is so bly dat ek uiteindelik die kans gekry het om my kant van die saak te stel,” het Majola hier aan joernaliste gesê.
Hy het kort tevore voor regter Chris Nicholson, wat die kommissie lei, toegegee dat hy nie sy bonusse van R1,8miljoen – wat hy van die Indiese Premierliga-toernooi (IPL) en die Kampioenetrofee-reeks in 2009 ontvang het – verklaar het soos wat die Maatskappyewet van hom vereis nie.
Die bonusskandaal het aan die lig gekom nadat KPMG, ’n ouditeursfirma, aangesê is om ’n oudit te doen na KSA se geldsake en bevind het dat tientalle KSA-amptenare miljoene rande se ongemagtigde bonusse gekry het.
Die amptenare het ook glo die Maatskappyewet oortree.
Majola het getuig hy het wel teenoor KSA se raad erken daar sou bonusse van die IPL uitbetaal word. Hy beskou die geld nie as ’n bonus nie, maar eerder as “betaling vir dienste gelewer”.
“As ek geweet het van artikel 234 sou ek dit behoorlik verklaar het soos die Maatskappyewet dit vereis,” het Majola gesê.
Op ’n vraag oor die bespiegelings dat Majola in KSA se vorige boekjaar meer as R5,3miljoen verdien het hoewel sy salaris sowat R1,86miljoen per jaar beloop, het hy aan joernaliste gesê: “Dit is baie lank terug en ek kan nie eers onthou wat ek verlede maand verdien het nie, maar ons boeke is oop as julle wil kom kyk.”
Toe Nicholson Majola gevra hoekom hy nie die bonusse by KSA se vergoedingskomitee verklaar het nie, het hy gesê dit is nooit in die verlede so gedoen nie.
Daar is aan Majola gestel dat Paul Harris, voormalige voorsitter van die vergoedingskomitee, in vroeëre getuienis getuig het dat as hy die IPL-bonusse verklaar het, sou KSA dalk nie ’n bonus van agt keer sy maandelikse salaris aan Majola goedgekeur het nie. Majola beweer egter Harris het uit die staanspoor geweet die ekstra geld vir toernooie het nie ’n rol gespeel in die prestasiebonusse nie.
Dr. Mtutuzeli Nyoka, voormalige KSA-president, het die trekpas gekry te midde van die twis oor die bonusse. Hoewel Majola en Nyoka saam grootgeword het in die Oos-Kaap, het hy ontken dat hulle vriende is.
Majola beweer toe hy as hoof van KSA by dr. Ali Bacher oorgeneem het, was daar geen struktuur of ontwikkelingsplanne gewees nie. “Krieket se besigheid het van R127 miljoen na R727 miljoen gegroei in die tyd toe ek daar was. Die besigheid (KSA) is tot ’n groot mate afhanklik van die sukses van die Proteas.”
KSA verdeel sy begroting met 26,7% aan ontwikkeling, 4,9% aan salarisse, 20,5% aan toere en meer as 47% aan “ander uitgawes”.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24