Majola appelleer teen sy afdanking
2012-10-20 09:41
Johannesburg - Gerald Majola, die afgedankte uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), sal appèl aanteken teen die bevindinge van ‘n dissiplinêre verhoor teen hom en sal sy saak in die arbeidshof beveg, berig Eyewitness News.
Majola is Vrydag afgedank ná adv. Karel Tip se bevindinge.
"Die voorsitter van die tugverhoor het sy strafbepaling uitgereik, wat onmiddelik deur KSA bekragtig sal word," het Krieket SA in 'n verklaring gesê.
Nicholas Preston, KSA se regsverteenwoordiger, het Donderdag gesê Majola is skuldig bevind op al nege klagtes teen hom.
Die klagtes sluit in dat hy bonusse aanvaar en dit nie aan die raad verklaar het nie, en dat hy reisvergoeding geniet het.
Majola het verlede week uit die dissiplinêre proses onttrek en het gekies om eerder na die arbeidshof te gaan.
Preston sê dit is interessant dat Majola nou appèl wil aanteken.
“Hy het aanvanklik die geleentheid gehad om te appelleer en sy naam skoon te maak, maar het gekies om te onttrek uit die verrigtinge. Die feit dat hy nou appèl aanteken is ‘n verrassing.”
– Eyewitness News
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter