Mahela tot Sri Lanka se redding
2012-04-04 09:38
Kaapstad – Mahela Jayawardene het sy voorliefde vir Engelse boulwerk in Sri Lanka Dinsdag weer gewys toe hy op die eerste dag van die tweede kriekettoets in Colombo 105 lopies gemoker het.
Die Sri Lankaanse kaptein het sy vierde honderdtal in sy laaste vier tuistoetse teen Engeland geslaan om sy span tot 238/6 met die uitskeityd te help.
Sy rekord teen Engeland is verstommend. In sy laaste 8 kolfbeurte tuis teen Engeland het hy nou tellings van 134, 1, 65, 195, 213*, 180, 5 en 105 aangeteken.
Sy 105 (216 balle, 11x4, 1x6) het die beurt bymekaar gehou nadat Sri Lanka vroeg drie paaltjies verloor het.
Tillakaratne Dilshan (14), Lahiru Thirimanne (8) en Kumar Sangakkara (0) was almal in die eerste uur terug in die paviljoen nadat Jimmy Anderson sy uitstekende peil voortgesit het. Hy het al drie paaltjies geneem.
Jayawardene en Thilan Samaraweera het 124 lopies om die vierde paaltjie bygevoeg om die span weer op koers te kry.
“Die drie paaltjies het ons vroeg op die agtervoet gehad, en ons sal môre (vandag) hard moet baklei om ons weer terug in die wedstryd te kry,” het Jayawardene gesê.
“Die blad is redelik stadig en Engeland het goed geboul, baie meer gedissiplineerd as in Galle. Hulle verdien krediet,” het die kaptein bygevoeg.
Dit was veral Anderson wat die kitaar geslaan het.
Die swaaibouler het die laaste paar jaar met rasse skrede verbeter en hy kan ’n groot gevaar vir die Suid-Afrikaanse kolwers inhou wanneer die toetsreeks tussen die twee voorste toetslande in die wêreld in Julie op die Oval in Londen begin.
Anderson, wat sy toetsbuiging in 2003 (teen Zimbabwe) gemaak het, het sedert die begin van Engeland se reeks in Suid-Afrika in die 2009-’10-seisoen 117 paaltjies in 26 toetse laat kantel teen ’n gemiddeld van 24.39 lopies per paaltjie.
In die 42 toetse voor daardie reeks, het hy net 140 paaltjies teen ’n gemiddeld van 34.80 geneem.
Sy aflewerings is gister ’n hele paar keer deur die dekke gedryf, maar nadat hy die bal begin swaai het, het die tuisspan se kolwers erg gesukkel.
Engeland het twee veranderinge aan sy span aangebring met twee blitsboulers, Tim Bresnan en Steven Finn, wat die draaier Monty Panesar en die beseerde Stuart Broad (enkel) vervang het.
Finn het ná die dag se spel gesê hy glo sy span het die botoon gevoer.
“Ek dink ons het ’n baie goeie dag beleef. Dit was ’n dag van taai toetskrieket. Jayawardene het wéér ’n fantastiese beurt gespeel en het ons vir ’n redelike tydperk laat swoeg, maar ek dink ons het met geduld geboul.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24