Mahela kry 100; Kallis weer puik
2010-04-05 12:32
Sportredaksie
Kolkata. – Mahela Jayawardene het die vierde honderdtal van vanjaar se Indiese Premierliga gemoker om die Kings XI Punjab se reeks nederlae te beëindig.
Die Kings XI het die Kolkata Knight Riders met agt paaltjies op Eden Gardens pak gegee.
Die Rajasthan Royals se Yusuf Pathan, Delhi se David Warner en Murali Vijay van die Chennai Super Kings is die ander kolwers wat vanjaar honderdtalle aangeteken het.
Kolkata het ’n indrukwekkende 200/3 in sy 20 beurte gemoker danksy 88 van die Wes-Indiese kaptein, Chris Gayle. Punjab het egter die wenlopies met 10 balle oor behaal vir ’n oorwinning met agt paaltjies
In die tweede wedstryd gister het die Delhi Daredevils die Royal Challengers Bangalore met 37 lopies geklop.
In Kolkata het Jayawardene ’n onoorwonne 110 (59 balle, 14x4, 3x6) gemoker om sy span tot slegs sy tweede oorwinning van vanjaar se IPL te help.
Hy het seker gemaak dat die verlangde lopietempo nooit te groot raak nie en eindelik was dit ’n maklike oorwinning vir dié span wat vanjaar lelik kleigetrap het.
Punjab is ondanks die oorwinning steeds laaste op die puntelys en het nie regtig ’n kans om die halfeindronde te haal nie.
Kolkata sal egter die nederlaag berou.
’n Oorwinning sou hom tot in die vierde plek op die puntelys geneem het, maar hy is nou in die vyfde plek ná 9 wedstryde.
Gayle het 88 van 42 balle gemoker, insluitend 33 van Ravi Bopara se derde boulbeurt. Twee wydlopers het beteken dat die beurt agt aflewerings geduur het. Gayle het vier agtereenvolgende sesse gemoker voordat ’n wydloper oor die grenstou gegaan het.
Paul Collingwood het ’n onoorwonne 75 (46 balle, 3x4, 7x6) gemoker om sy span tot 184/5 te help in sy wedstryd teen verlede jaar se finaliste.
Die Royal Challengers het met reëlmaat paaltjies verloor en ofskoon Jacques Kallis (54 van 42 balle, 5x4, 1x6) sy uitstekende peil voortgesit het, kon hulle nie tred hou met die verlangde lopietempo nie.
Hulle is tot 147/9 beperk.
– Sport24