Ligpunte maar skraps vir Proteas
2009-11-09 08:28
CHRISTO BUCHNER
Suid-Afrika het Zimbabwe wel Sondag hier op Willowmoorepark met 45 lopies geklop in hul eendag-krieketstryd, maar daar is steeds meer vrae as antwoorde vir Graeme Smith (SA kaptein) se span met die Engelse aanslag op hande.
Wat veronderstel was om ’n goeie oefenlopie ter voorbereiding vir die Engelse te wees, het op Willowmoorepark nie veel opgelewer vir die tuisspan nie.
Of Smith en sy Protea-spanmaats reg is om Engeland slae te gee, hang nog soos die reënwolke gister hier oor die Oos-Rand in die lug.
Suid-Afrika het 295/5 gekry nadat hy ingestuur is om te kolf, waarna Zimbabwe gehinkepink het tot 94/5 in 29 beurte toe reën, amper genadiglik wil jy sê, uitgesak het.
Spel is later hervat en die Zimbabwiërs het danksy Tatenda Taibu (103*, 110 balle, 6x4, 3x6) en Stuart Matsikenyeri (86, 87 b, 8x4, 1x6) by 250/6 uitgekom. In hul rekord-vennootskap van 188 lopies om die sesde paaltjie het hulle die SA boulaanval soms baie middelmatig laat lyk.
Ná die hervatting het die tuisboulers sonder enige deurdringingsvermoë vertoon en was daar nie iets wat die Engelse kolwers se broeke sou laat bewe het nie.
Selfs wat Zimbabwiese standaarde betref, was dit voor die reën-onderbreking ’n powere poging en daar kan min twyfel wees dat Suid-Afrika meer teenstand sou kry as hy selfs net teen die tuisfranchise, die Titans, sou speel.
In die SA beurt het Hashim Amla wel 80 lopies (96 b, 6x4) geslaan, maar dit is veel eerder AB de Villiers (51, 51 b, 5x4, 1x6) en Albie Morkel (50*, 39 b, 3x4, 3x6) se beurte wat langer onthou sal word.
Amla en De Villiers se 90 lopies om die tweede paaltjie en die 86 wat Morkel en Alviro Peterson (39) om die vyfde paaltjie versamel het, was die uitstaande vennootskappe.
Die noordelike buurman se draaiers het die SA kolwers deeglik aan bande gelê, met Ray Price (3/44) die groot doring in die vlees.
In die laaste ses beurte het Suid-Afrika 68 lopies geslaan, danksy Morkel.
Ryan McLaren (3/51), wat sy debuut in internasionale eendagkrieket gemaak het, het ’n paaltjie in sy eerste boulbeurt geneem toe hy Justice Chibhabha (21) been voor paaltjie betrap het.
Op 48/5 in die 18de beurt was dit net ’n geval met hoeveel lopies Zimbabwe in die stof sou byt, maar in die laaste 32 beurte kon die SA boulers net een keer sukses proe, toe McLaren sy derde paaltjie gebuit het.
- Die Burger