Levi moet terug na SA
2012-02-21 11:07
Johannesburg – Richard Levi sal terugkeer na Suid-Afrika soos wat oorspronklik beplan is, het Krieket SA (KSA) Dinsdag aangekondig.
Levi (24) het Sondag in slegs sy tweede internasionale blitswedstryd 'n onoorwonne 117 lopies van 45 balle gemoker om Suid-Afrika tot 'n agt paaltjie-oorwinning in Hamilton te lei.
Maar die keurderbaas Andrew Hudson het gesê dié aanvangskolwer sal nie in Nieu-Seeland aanbly nie, ten spyte van verskeie oproepe om hom vir die Proteas se eendagspan te kies.
"Levi se vertoning met die kolf was fantasties – een van die bestes wat ek nog gesien het," het Hudson gesê.
"Ons hoop hy kan voortgaan om dieselfde te doen vir die Cape Cobras in die Miway t20-toernooi."
Hy is 'n opwindende talent vir ons en sal fyn dopgehou en gemonitor word. Sy tyd sal kom."
Levi sal saam met die naatbouler Rusty Theron en kolwer Colin Ingram, ná Woensdag se beslissende blitswedstryd in Auckland, terugkeer.
Die voormalige kaptein Graeme Smith, snelbouler Dale Steyn en veelsydige spelers Jacques Kalls en Faf du Plessis het teeds by die Proteas se eendagspan aangesluit.
Suid-Afrika speel die eerste van drie eendagwedstryde Saterdag in Wellington.
Eendagspan:
AB de Villiers (kaptein), Hashim Amla (onderkaptein), Johan Botha, JP Duminy, Faf du Plessis, Jacques Kallis, Albie Morkel, Morne Morkel, Justin Ontong, Wayne Parnell, Robin Peterson, Graeme Smith, Dale Steyn, Lonwabo Tsotsobe.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA