Levi hoort in SA se kitsspan
2012-02-21 07:02
Kaapstad – “As ek Gary Kirsten (SA breier) was, sou Richard Levi beslis deel van my planne in die eendagreeks teen die Kiwi’s gewees het.”
Só het Richard Pybus, Levi se krieketbreier by die Cape Cobras, Maandag gesê.
En, hy sou beslis wou sien dat die jong mokerman ’n kans gegun word om voort te bou op die ongelooflike vertoning in Sondag se twintig20-stryd teen Nieu-Seeland in Hamilton.
Levi (117* van 51 balle) het die Kiwi’s se boulaanval aan flarde geslaan en het die wedstryd amper man-alleen vir die Proteas gewen. Hy het onder meer 13 sesse ingeryg.
Sy breier glo dat hy ook dié impak in wedstryde oor 50 boulbeurte kan hê.
“Dit was ’n ongelooflike beurt en dit was fantasties om te sien hoe hy sy kop gebruik het.
“Dit was nie net ’n wilde geswaai nie,” het Pybus gesê.
“As jy in ag neem dat hy maar eers aan die einde van verlede seisoen die beurt vir ons (Cobras) in kitskrieket begin het, is dit indrukwekkend om te sien hoe vinnig hy leer.
“Daar was tye dié seisoen waar hy nie sy kop gebruik het in beurte vir die Cobras nie.”
Ofskoon Levi maar nog net twee t20-wedstryde vir die Proteas gespeel het, het sy beurt eergister ook die druk op die gewese kaptein Graeme Smith laat oplaai.
As Levi die eendagspan sou haal, sou dit waarskynlik slegs in Smith se plek kon wees.
Dié aanvangskolwer het weliswaar verlede maand in sy laaste kitswedstryd teen Sri Lanka ’n honderdtal geslaan, maar voor dit was hy glad nie op dreef nie.
Die ander aanvangskolwer, Hashim Amla, is een van die groot staatmakers en beskik ook oor ’n goeie eendagrekord.
Die eerste kitsstryd word Saterdag in Wellington gespeel.
Levi verwag egter nie om in dié wedstryd te speel nie. Hy het Maandag aan Johann de Jager gesê sover hy weet, speel hy Vrydagaand vir die Cobras op die Wanderers teen die Lions.
Intussen het die Kiwi’s hul eie fris mokerman, Jesse Ryder, in hul groep ingesluit vir môre se beslissende blitswedstryd.
Hy is slaggereed nadat hy van ’n kuitbesering herstel het.
Hy vervang die veelsydige Andrew Ellis, het Sapa-AP berig.
Die Nieu-Seelandse groep is: Brendon McCullum (k), Michael Bates, Doug Bracewell, Andrew Ellis, Martin Guptill, James Franklin, Nathan McCullum, Andrew McKay, Kyle Mills, Tarun Nethula, Rob Nicol, Jesse Ryder, Tim Southee, Kane Williamson.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg