Laaste eendagstryd 'sleutel' vir toetse
2011-10-27 23:02
Durban – Suid-Afrika en Australië meen Vrydag se beslissende eendagwedstryd kan ‘n impak hê op volgende maand se toetsreeks en albei spanne gee hul beseerde spelers elke kans om hul fiksheid te bewys voor die Durban-kragmeting.
Die twee spanne het albei een oorwinning behaal in die reeks van drie wedstryde, wat effektief Vrydag se wedstryd ‘n “eindstryd” maak.
Die reeks van twee toetse begin op 9 November in Kaapstad. Die tweede toets word vanaf 17 November op die Wanderers in Johannesburg beslis.
“Albei spanne het heelwat spelers wat by die toetse en die eendagwedstryde betrokke is,” het Michael Clarke, kaptein van Australië, Donderdag aan verslaggewers gesê.
“As jy die eendagreeks wen, neem jy selfvertroue na die volgende wedstryd wat jy teen dieselfde teenstand speel. Daar is niks beter as om as ‘n span te wen nie. Dit is ‘n wonderlike gevoel en dit is die gevoel wat jy wil hê in enige span waarvan jy deel is.”
Die Suid-Afrikaanse kaptein, Hashim Amla, het die kans om ‘n eerste reeksoorwinning as kaptein te behaal.
“Op die ou end van die dag wil jy die reeks wen, jy wil momentum dra na die toetswedstryde,” het hy gesê.
“Ons plaas nie baie druk op onsself nie. Die laaste wedstryd was reeds basies vir ons ‘n eindstryd – as ons dit verloor het, sou ons die reeks verloor. Die manier waarop die ouens in die laaste wedstryd gespeel het, was ‘n inspirasie en ons sal dit na die volgende wedstryd probeer dra.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- Reuters