'Krieketspeler het dwelms gebruik' – ondersoek
2013-02-28 15:22
Londen – Die sokkerlegende Tony Adams het gesê professionele krieketspelers het by sy rehabilitasiekliniek kom aanklop, ná die dood van die Surrey-kolwer Tom Maynard.
Maynard is die seun van Matthew Maynard, afrigter van die Nashua Titans.
'n Nadoodse ondersoek vroeër die week het kokaïen en ecstasy in die 23-jarige se liggaam gevind en die verslag het ook getoon dat Maynard se alkoholvlak vier keer meer as die wettige limiet was toe hy in Junie verlede jaar deur 'n moltrein in Londen getref is.
Maynard het die betrokke dag van die polisie gevlug toe hulle hom van die pad probeer trek het omdat sy motor heen en weer oor die pad gery het.
Hy is 'n ruk later op 'n treinspoor doodgevind.
Adams, wat die kliniek begin het nadat hy self 'n stryd teen alkohol gevoer het, het gesê dit is nou baie makliker vir hoë-profiel sportmans en -vroue om hulp te kry.
"Sestien jaar gelede toe ek ophou drink het, was daar nêrens om te gaan nie, niemand om mee te praat of my in die regte rigting te stuur nie," het die voormalige Arsenal-speler gesê.
Toetse op Maynard (23) se haarmonsters wys dat hy moontlik dwelms op 'n daaglikse basis gebruik het in die drie maande voor sy dood, het die nadoodse ondersoek bevind.
Maynard se huismaat, Rory Hamilton-Brown en spanmaat Jade Dernbach, wat saam met hom gedrink het op die aand van sy dood, het albei gesê dat hulle onbewus was van hul vriend se dwelmgebruik.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA