Kriekethoës ‘het mekaar agteraf beswadder’
2012-01-18 09:00
Johannesburg – Adv. Norman Arendse SC, voormalige president van Krieket Suid-Afrika (KSA), het gister in sy getuienis voor regter Chris Nicholson verwys na Diteko Modise, voormalige hoof van finansies by die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKRSA).
Modise is in 2008 op nege aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal skuldig bevind. Hy dien tronkstraf uit nadat hy tussen 2002 en 2004 altesaam R7,4 miljoen gesteel het.
Arendse het getuig mnr. Gerald Majola, uitvoerende hoof van KSA, is ook vir sy betrokkenheid by Modise ondersoek. Majola is toe voor ’n tugkomitee gebring op ’n klag “wat hy dink” botsende belange was omdat ’n maatskappy waarvan hy ’n direkteur was sake met VKRSA gedoen het.
“Hy is net oor die vingers getik,” het Arendse gesê.
Hy meen KSA moes Majola skors of op spesiale verlof geplaas het hangende die verslag van die Nicholson-kommissie.
Arendse het krieket in Suid-Afrika beskryf as ’n “googly- of ’n doosra-bal, want daar is baie misleiding in krieket”. Tydens sy presidentskap was daar ’n “magspel” en het hy nie geweet wie om te vertrou nie. Majola het vir hom gesê hoe sleg dr. Mtutuzeli Nyoka, voormalige president van KSA, was omdat hy saam met Nyoka grootgeword het.
Nyoka het weer vir Majola by Arendse beswadder.
Arendse het gesê hy dink die regering doen nie genoeg vir sport in staatskole en die ontwikkeling daarvan in die plakkerskampe nie. “As jy kyk na die getalle, dan kry krieket al hoe minder van die regering af. ’n Objektiewe feit is dat alle swart spelers in die nasionale span van private of model C-skole af kom, behalwe Vernon Philander, wat uit ’n staatskool kom,” het Arendse gesê.
Hy meen ook daar was nog nie naastenby genoeg transformasie in dié sport nie.
Prof. Hentie van Wyk, voormalige tesourier en vergoedingskomiteelid van KSA, het gister getuig toe hy in 2005 by KSA begin het, was die geldsake ’n gemors.
“Hulle het R40 miljoen in die bank gehad, maar ’n bedryfsverlies van R80 miljoen gehad.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.