'Krieket-tweeter' weet toe niks van krieket
2010-11-29 16:00
Kaapstad - 'n Vrou in Amerika wat op Twitter meestal oor haar breiwerk en kind getweet het, het skielik die belangstelling gelok van krieketondersteuners wêreldwyd.
Volgens die Sydney Morning Herald, het die vrou van Massachusetts onder die naam @theashes getweet, toe sy verlede week skielik oorval is met boodskappe wat die jongste kriekettelling in die reeks om die As tussen Australië en Engeland wil weet.
Volgens die berig was sy aanvanklik geamuseerd maar het sy haar naderhand vir die boodskappe begin vererg.
"Ek is nie 'n krieketwedstryd nie. Hou op om my twitternaam aan te stuur en kyk eers na my profiel voor jy boodskappe stuur. Dit is regtig irriterend," het sy getweet.
Sy het nou meer as 6 700 volgelinge nadat sy voor die begin van die As-reeks, slegs 'n paar honderd gehad het.
En haar frustrasie met krieketgeesdriftiges was duidelik op haar Twitter-profiel te lees. "Ek is nie 'n vervlakste krieketwedstryd nie!!!" het sy aanhou tweet.
Namate sy begin bedaar het, het die vrou Twitter gebruik om meer oor krieket te leer.
'n Meer onlangse tweet het so ewe gevra, "wat op dees aarde is 'n paaltjie?"
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24