Krieket in SA word ’n jong ster ryker
2011-12-27 07:25
Durban – Dit het Marchant de Lange gister hier net 12 balle geneem om sy eerste paaltjie in toetskrieket te neem.
Twee balle later het hy die krieketwêreld laat regop sit toe dié 21-jarige Terriër van Tzaneen sy tweede paaltjie ingeoes het.
Vier dae gelede was daar nog geen sprake dat dié stewig geboude oudleerling aan die Hoërskool Ben Vorster toetskrieket sou speel nie.
Trouens, hy was gereed om hier van Durban, waar hy saam met die Suid-Afrikaanse span in die nette geoefen het voor die tweede toets teen Sri Lanka, terug te vlieg om van gister af vir die Titans in Benoni teen die Lions in ’n SuperSport-wedstryd te speel.
Maar nadat die boulsensasie Vernon Philander sy linkerknie die dag voor Kersfees hier in ’n netoefening beseer het, is De Lange op die nippertjie nader geroep.
“Ek was vooraf nogal kwaai op my senuwees. Namate ek in die toets ingekom het, het ek al hoe meer op my gemak gevoel. Ek was in die wolke toe ek daardie eerste paaltjie geneem het,” het hy gisteraand gesê.
Ná slegs ses boulbeurte het sy kaptein, Graeme Smith, die bal vir hom gegooi en hy het sommer met sy eerste aflewering op dié vlak Tillakaratne Dil-shan, Sri Lankaanse kaptein, se oë laat rek met ’n opslagbal.
Hy het met die laaste bal van sy tweede boulbeurt vir Tharanga Paranavitana gekry om ’n vangskoot agter die paaltjies aan Mark Boucher te bied.
Twee balle later was Kumar Sangakkara, die wêreld se voorste toetskolwer, sy volgende slagoffer. Boucher het weer die vangwerk gedoen. De Lange het sy eerste boulskof in toetskrieket afgesluit met die baie indrukwekkende syfers van 4/60 in 16,3 boulbeurte.
Voordat die toets begin het, het hy sy groen pet van die voormalige Suid-Afrikaanse boulheld Shaun Pollock ontvang en is deur al sy spanmaats gelukgewens. “Shaun het my net sterkte toegewens en gesê hy hoop ek is nog lank deel van die nasionale opset,” het De Lange vertel.
Sri Lanka hervat vanoggend sy eerste beurt op 289/7.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24