Krieket SA stel T20-bekendstelling uit
2012-02-06 21:58
Johannesburg – Die bekendstelling van die Twintig20 Uitdaging is onbepaald uitgestel, het Krieket Suid-Afrika (KSA) Maandag gesê.
“Die plaaslike T20-bekendstelling wat op Woensdag 8 Februarie by die Wanderers Klub sou plaasvind, is uitgestel tot verdere kennisgewing,” het KSA in ‘n verklaring gesê.
Die T20 Uitdaging sou op 15 Februarie begin het, maar die wedstrydbepalings is nog nie gefinaliseer nie, met minder as twee weke oor.
‘n Sewende span sou na verwagting Woensdag as deelnemer bekend gestel word. Die sewende span sou aansluit by die ses spanne in dié kompetisie, wat geen borg het nie.
Met die nasionale krieketliggaam, en veral die uitvoerende hoof, Gerald Majola, wat in ‘n voortdurende skandaal oor bonusse betrokke is, kon KSA nie borge vir die twee kompetisies vanjaar – die T20 Uitdaging en die Eendagkampioenskap – vasmaak nie.
Die Supersportreeks, wat vandeesweek tot ‘n einde kom, was die enigste kompetisie wat deur ‘n onafhanklike bron geborg is.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA