Krieket SA beplan pad vorentoe
2010-01-19 16:32
Johannesburg - Senior lede van Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag met die Proteas se bestuurspan vergader om die pad vorentoe te bespreek.
Gerald Majola, die uitvoerende hoof van KSA, het benadruk dat die datum vir dié vergadering reeds verlede jaar in Durban vasgestel is en nie ‘n reaksie is op Suid-Afrika se onvermoë om die kriekettoets teen Engeland te wen nie.
“Die Proteas is ons grootste bate en die vergadering gaan handel oor maniere om die span selfs beter te maak,” het Majola gesê.
“Hierdie is ons laaste geleentheid om met die bestuur van die span – insluitende die afrigter Mickey Arthur en die kaptein Graeme Smith – te vergader voor hulle vir Indië vertrek.
“Ons finansiële jaar eindig in April en ons het nodig om te weet wat die span nodig het om te verbeter. Miskien het hulle ‘n spesialis-afrigter nodig, of nog mediese personeel,” het Majola gesê.
Majola het gesê hy was trots op die wyse waarop die Proteas teen Engeland gespeel het.
“Behalwe vir twee verkeerde besluite in Durban, was Suid-Afrika altyd die beter span, ons het in die laaste toets heeltemal gedomineer," het Majola gesê.
Majola het gerugte ontken dat koppe sou rol as Suid-Afrika nie daarin sou slaag om die laaste toets van die reeks te wen nie.
“Mickey Arthur het ‘n kontrak tot 2011 en Graeme sal ten minste tot en met volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi die Proteas se kaptein wees,” het hy gesê.
- Sapa