Kopkrap wag op Proteas-afrigter
2010-06-08 08:57
Altus Momberg
Kaapstad
Die Proteas sal moet kies tussen twee van die uitblinkers in die onlangse eendagkrieket-reeks – Ryan McLaren en Lonwabo Tsotsobe – om die beseerde Wayne Parnell in die toetsspan vir Donderdag se eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande op die Queen’s Park Oval in Port of Spain te vervang.
Ofskoon daar ’n kans is dat die Suid-Afrikaners ’n tweede draaier gaan kies op ’n kolfblad wat tradisioneel hulp aan draaiers verleen, gaan die Proteas waarskynlik eerder hul eie vertoningslys op dié veld as rigtingwyser gebruik.
Jacques Kallis was die boulheld hier in 2001 toe hy die Windies in die vierde beurt uitgeknikker het.
In 2005 was dit die toets waarin Makhaya Ntini 13/132 geneem het.
Die verwagting is dat die kolfblad, wat amper geen gras op het nie, vinnig gaan opbreek en dat die vernaamste eienskap van die blad in die toets sy oneweredige wip gaan wees.
In sulke toestande gaan ’n lang bouler soos Morné Morkel veral ’n doring in die Windies se vlees wees.
McLaren het waarskynlik ’n effense voorsprong bo Tsotsobe in die sin dat hy reeds in ’n toets – in Januarie vanjaar teen Engeland op die Wanderers – vir die Proteas gespeel het.
Hy het ook die vermoë om op nr.8 te kolf wat die kolfdiepte gaan versterk.
Tsotsobe het groot verbetering in die onlangse eendag-reeks getoon en het veral beïndruk met die manier wat hy sy aflewerings afgewissel het.
Hy het gewys dat hy oor ’n goeie stadiger aflewering beskik en ook gemaklik is as hy om die paaltjie boul.
Dan het hy ook gewys dat hy die vermoë het om vinnige wegbreke (off-cutters) te boul.
Dit is beslis ’n aflewering wat kan help op die stadige, lae kolfblaaie van die Windies en ook op die subkontinent.
“Lonwabo se vaardighede was nog altyd een van sy groot pluspunte as ’n bouler en hy het op twee vorige toere vir die Opkomende SA span gewys wat hy kan doen,” het Corrie van Zyl, afrigter van die Proteas, gesê.
“Dit was verblydend om te sien dat hy nou die nodige selfvertroue het om al die afwisseling op dié vlak te gebruik.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24