Kommer heers oor Morkel-besering
2012-01-26 14:21
Kaapstad – Die Titans se Albie Morkel is Donderdag na die hospitaal gestuur vir toetse, nadat 'n krieketbal hom op sy gewrig getref het tydens 'n Supersport-wedstryd teen die Cape Cobras op Bolandpark in die Paarl.
Vincent Barnes, die Proteas se voormalige boulafrigter, het op sy Twitter-profiel bevestig dat Morkel seergekry het.
Die veelsydige speler is Woensdag vir die Proteas se t20- en eendagspan gekies wat volgende maand na Nieu-Seeland reis.
Morkel het die paaltjies van die eerste drie Cobras-kolwers, Andrew Puttick, Yaseen Vallie en Stiaan van Zyl, platgetrek voor hy seergekry het.
Intussen kon die veteraan-paaltjiewagter Mark Boucher nie daarin slaag om 'n indruk met die kolf te maak nie, nadat hy deur Rowan Richards vir 6 lopies uitgeboul is.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24