Kolwer uit met gebreekte voet
2010-07-14 07:06
Londen - Die kolwer Ian Bell sal nie vir Engeland in die opkomende reeks teen Pakistan kan speel nie, nadat hy sy voet in ‘n eendagwedstryd teen Bangladesj in Bristol gebreek het.
“Ian moes 'n operasie Maandag aan sy voet ondergaan, het Nick Peirce, die hoof-mediese beampte van Engeland en Wallis se krieketraad, Dinsdag in ‘n verklaring gesê.
Bell het Sondag tydens die tweede eendagwedstryd teen Bangladesj probeer om die bal van kolwer Junaid Siddique te vang en skeef op sy voet geland. Hy is dadelik van die veld geneem.
Die 28-jarige was nie in staat om in sy nommer drie posisie te kolf na dié besering nie, maar het met ‘n voetskerm en hardloper as laaste kolwer teruggekeer in ‘n poging om Engeland met 10 lopies tot 'n oorwinning te lei.
Bangladesj het uiteindelik die eendagwedstryd met vyf lopies gewen, hul eerste oorwinning oor Engeland in 21 wedstryde.
Engeland se krieketreeks teen Pakistan op 29 Julie in Trent Bridge is hul laaste voor die reeks om die As November in Australië begin.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24