Koelkop Lions-boulers helde teen Warriors
2012-01-16 10:21
Port Elizabeth – Die Lions se krieketspan het koelkop gebly om die Warriors in hul SuperSport-wedstryd op St. Georgepark te klop.
Goeie werk deur die naatbouler Chris Morris (4/54), wat ’n driekuns behaal het, en die bybreker Eddie Leie (4/98), het Sondag op die vierde en laaste dag ’n oorwinning met 94 lopies aan die Lions besorg.
Die Warriors is in hul tweede beurt vir 256 lopies uitgehaal.
Die Lions het kalm gebly en aanhou werk vir hul paaltjies toe die Warriors hul lopiejaagtog vir ’n sege goed begin het.
Die tuisspan is die taak gestel om in sy tweede beurt 351 lopies aan te teken.
Dit was ná ’n goeie beurtsluiting op 171/8 van die Lions se tweede beurt.
Met Kelly Smuts aan die spits het die Warriors haastig afgesit.
Smuts het dadelik die boulwerk aangeval en 139 lopies saam met Michael Price (52) om die eerste paaltjie geslaan.
Smuts het voortgegaan om 100 lopies te kry (17x4). Ná sy vertrek het Arno Jacobs (47) hard probeer, maar die res het voor Morris en Leie geswig.
Sondag het die Lions hul tweede beurt op 121/6 hervat. Temba Bavuma (73*) se beurt was die hoogtepunt.
In Pietermaritzburg het die Cape Cobras en die Dolphins se wedstryd onbeslis geëindig met die Dolphins se telling in hul tweede beurt op 271/6.
Die wenteiken van 401 was van meet af aan bo die Dolphins se vuurmaakplek.
Hulle het Sondag op 40/0 hervat en waardevolle beurte deur Divan van Wyk (63), Imraan Khan (73) en Vaughn van Jaarsveld (48) het gehelp om die Cobras van ’n oorwinning te weerhou.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24